Woods amper meer gekyk as Monica Lewinsky
2010-02-20 05:19
Los Angeles - Tiger Woods se perskonferensie Vrydagaand was die mees gekykte skulderkenning sedert Bill Clinton in 1998 oor sy berugte verhouding met Monica Lewinsky gepraat het.
Woods het Vrydag aan die ganse wêreld om verskoning gevra omdat hy sy vrou met verskeie ander vrouens verneuk het.
Die gholfkampioen het gesê hy het die afgelope 45 dae behandeling ontvang vir sy "onverantwoordelike en selfsugtige optrede". Woods sou glo vir verdere behandeling gaan.
Hy weet nie wanneer hy na die gholfbaan sal terugkeer nie.
Die superster se verklaring is regoor die wêreld uitgebasuin in die gedrukte, aanlyn- en televisiemedia. Sommige medianetwerke het hul normale beeldsendings onderbreek om Woods se toespraak aan 'n vasgenaelde gehoor te beeldsend.
Selfs Wall Street het byna tot 'n stilstand gekom terwyl makelaars na die gholfspeler se skuldbekentenis geluister het.
Sommige mediakenners het Woods gekomplimenteer vir sy eerlikheid; ander meen egter dit is 'n goeie voorbeeld van manipulering van die media.
Woods se toespraak het op dieselfde tyd plaasgevind as Accenture se Wêreldputjiespeltoernooi in Arizona, waaraan Woods homself onttrek het tydens die skandaal.
Dié maatskappy is een van die eerste wat Woods se borgskap kanselleer het.
- Sapa-AFP