Wimbledon-langasems ontmoet wéér
2011-06-17 13:13
Kaapstad - Presies 'n jaar nadat John Isner en Nicolas Mahut die langste wedstryd in die geskiedenis van tennis gespeel het, kom die twee weer by Wimbledon teen mekaar te staan.
Vrydag se loting vir die grasbaan-toernooi het bepaal dat die Amerikaner en Fransman weer opponente sal wees in die eerste ronde.
Isner het verlede jaar die epiese stryd wat oor drie dae gespeel is, 6-4, 3-6, 6-7 (7), 7-6 (3), 70-68, in 11 ure 5 min gewen.
Die vierde gekeurde Andy Murray het op sy Twitter-profiel getweet: "Isner en Mahut weer teen mekaar in die eerste ronde! Wie sê ja vir die hoofbaan?!"
Na verlede jaar se marathon-stryd het die driemalige kampioen John McEnroe voorgestel dat die laaste stel na 'n valbylstel verander word.
Maar Isner was nie oortuig nie. "Ek dink nie so nie. So iets sal nooit, ooit weer gebeur nie. Niemand sal eers naby aan daai telling kom nie, so ek dink dit moet so bly," het die Amerikaner gesê.
Vanjaar se Wimbledon vind plaas vanaf 20 Junie tot 3 Julie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24