Williams-susters uit China Ope
2012-09-28 08:37
Beijing – Die huidige Wimbledon- en Amerikaanse Ope-kampioen, Serena Williams, het Donderdag weens griep uit die Chinese Ope onttrek terwyl haar suster, Venus, ook uit is met 'n rugbesering, het organiseerders van die toernooi Vrydag gesê.
Serena, wat vanjaar goud by die Olimpiese Spele gewen het, het twee dae voor die aanvang van die eerste ronde onttrek.
"Ons wou baie graag vir Venus en Serena by die Chinese Ope sien, maar ongelukkig gebeur dit dat spelers siek of beseer word en gevolglik nie kan deelneem nie, het Charles Hsiung, 'n direkteur van die toernooi, gesê.
Venus, die ouer Williams-suster en voormalige eerste gekeurde vrouespeler, het 'n moeilike jaar agter die rug en is tans 41ste op die wêreldranglys.
Die Chinese Ope begin Saterdag met Agnieszka Radwanska van Pole wat haar titel teen top-spelers insluitende Victoria Azarenka, Maria Sharapova en Li Na moet verdedig.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP