Wêreldrekord vir Comrades-ultramarathon
2010-10-20 09:24
Bloemfontein - Die wêreldrekord vir die meeste deelnemers tot nog toe aan ’n ultra-marathon behoort aan die Comrades.
Volgens die Comrades-marathonvereniging (CMA) het 23 568 mense hulle vanjaar daarvoor ingeskryf en 14 343 het dit binne die 12uur-afsnytyd voltooi.
“Dit was dié statistieke wat Die Uiterste Menslike Wedloop tot in die internasionaal erkende rekordboeke laat beland het en amptelik as die wêreld se grootste ultra-marathon erkenning gegee het,” het die CMA in ’n verklaring gesê.
“Om dié prestasie te behaal was ’n wonderlike en gepaste manier om die 85ste bestaansjaar van Die Uiterste Menslike Wedloop te vier,” het Thami Vilakazi, bemarkingskoördineerder van die CMA, gesê.
“Die CMA wil al die hardlopers wat deelgeneem en die kameraderie van die wedloop omarm het, bedank omdat hulle ’n groot rol in dié prestasie gespeel het.”
Om aan die streng voorwaardes van Guinness World Records te voldoen, was volgens hom allermins kinderspeletjies.
“Om om die rekordpoging aansoek te doen was ’n hele proses, en om al die nodige getuienis te organiseer en bymekaar te maak was op sigself ’n hele gedoente.”
Andrew Layman van die Pietermaritzburgse sakekamer en Dave Erasmus van The Witness, Volksbladse Pietermaritzburgse susterkoerant, het as getuies opgetree om die rekordgetal deelnemers onafhanklik te verifieer.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24