Vyfde krokodil gesien by Dusi-kamp
2010-01-23 12:42
Wilhelm de Swardt
Kloof – ’n Vyfde krokodil is gister gewaar slegs ’n paar honderd meter van die kamp waar deelnemers aan die Dusi-kanowedvaart oornag het.
Brad Glaspool, wat in beheer van die kamp by die Dusi-brug is, het vertel sy werknemers het die krokodil opgemerk terwyl hulle die elektriese heining afgeslaan het. “Ek het nie self die krokodil gesien nie, maar van wat ek kan aflei, wil dit klink asof die krokodil twee meter lank kan wees.
Volgens Ray de Vries, Dusi-woordvoerder, beteken dit daar is nou minstens vyf krokodille in die Umsinduzi-rivier.
Jeff Gaisford, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste (Ezemvelo), het gesê die krokodille het waarskynlik uit krokodilplase ontsnap.
“Eintlik is dit vir my half ironies dat daar nou gedurende die Dusi-kanowedvaart so ’n groot ophef van die krokodille gemaak word. Ons weet al ’n hele paar jaar lank van die krokodille. Toe ons die kanovaarders die eerste keer gewaarsku het daar is krokodille in die Umgeni-rivier en dat ons hulle wil verwyder, was die kanovaarders se reaksie: ‘Moenie, dit sal lekker wees om wildlewe langs die rivier te sien.’ ”
Volgens Gaisford hou die krokodille geen gevaar vir kanovaarders in nie. “Die kano’s beweeg heeltemal te vinnig deur die water.”
- Volksblad