Vrystater hol SA rekord los
2011-04-04 07:34
Bloemfontein - Tsepo Lefete (Vrystaat) het Sondag so stil-stil op die tweede dag van Geelbladsye se Suid-Afrikaanse o.23-, junior- en jeug-atletiekbyeenkoms die enigste Suid-Afrikaanse rekord gebreek toe hy sy uitdun in die 110-hekkies in 13.71 s gewen het.
Sy wentyd troef Louw Smit se SA rekord van 13.73 s, wat hy in 2007 opgestel het.
Niemand was bewus dat Lefete die rekord verbeter het nie totdat Hennie Kriel van Noord-Gauteng daaroor begin wonder het.
Daar moes inderhaas reëlings getref word om Lefete te laat toets nadat hy die eindronde in 13.96s gewen het.
Aanhoudende reën het Sondagmiddag sake erg bemoeilik.
Die verspring- en driesprong-atlete het in die oggend die meeste van die sonskynweer gemaak.
Boipelo Mothlatlhego (Noord-Gauteng) het die driesprong vir o.23-atlete met 16.35m gewen.
Net vyf plaaslike senior atlete het al verder gespring.
Mpho Maphutha (18, Noord-Gauteng) het die verspring vir junior mans (8m) gewen en daarmee verseker hy sluit hom aan by die uitgelese groepie plaaslike atlete wat 8 m en verder gespring het.
Hy is maar die agtste en jongste atleet wat dit reggekry het.
Khotso Mokoena en Luvo Maniyonga was albei 19 toe hulle die maatband verder as 8 m laat rek het.
“Terwyl ek vir my laaste sprong reggemaak het, het ek besluit dit is ’n geval van gaan groot of gaan huis toe.
Toe ek vastrap, het ek geweet hier kom ’n grote,” het ’n verheugde Maphutha sy wensprong beskryf.
Maniyonga (Boland) het groot karakter getoon deur in die koue en nat toestande die verspring vir o.23-mans met ’n sprong van 8.07m te wen.
Samantha Pretorius (WP) was dié beste vrou op die byeenkoms.
Sy het eers die junior verspring (met 6.44m) gewen en 4 uur later het sy die 100m in 11.93s gewen.
Haar wensprong is die naasbeste deur ’n SA junior vrou.
Net nege senior vroue het al verder spring.
“Ek het myself verras. Wat vir my opwindend is, is dat ek met vyf van my spronge my persoonlike beste van 6.14m oortref het,” het Pretorius gesê.
Stephanie Wicksell (Noord-Gauteng) het in die 400m vir o.18-vroue onder haar teenstanders uitgehardloop.
Met die vertoning moes sy haar grootste kritikus stil gehardloop het. Haar wentyd was 54.91s.
Pieter Conradie (Noord-Gauteng) het in die 400m vir o.18-seuns bewys dat hy skynbaar nie die woord verloor ken nie toe hy die 400 m in ’n persoonlike beste van 46.83s gewen het.
Dit was sy 12de agtereenvolgende oorwinning vanjaar.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24