Vroue skiet doele vir Afrika
2010-07-21 09:54
Oos-Londen - Altesame 25 doele is op die eerste dag van die nasionale hokkietoernooi vir vroue aangeteken en net een daarvan vir die verloorspan.
Noordelikes, KwaZulu-Natalse Raiders, Westelike Provinsie en Suidelikes het almal seges behaal hier op Kat Leisure-park.
Noordelikes het die dag begin deur Wits met 7-0 kaf te draf en daarna het die KZN Raiders hul bure, die KZN Mynahs, met 8-0 verneder. Die WP se wedstryd teen Noordwes is vooraf deur sommige as ’n harde neut vir die Kapenaars bestempel.
Wat wou. Die WP was met 6-1 baas.
Suidelikes het in die laaste wedstryd van die dag die Oostelike Provinsie met 3-0 geklop.
Die WP se doele is aangeteken deur Kathleen Taylor, Vida Ryan, Farah Fredericks, Illse Davids, Henna du Buisson (2) en Tarryn Bright.
Die WP sal vandag sy storie moet ken wanneer hy teen die verdedigende kampioen te staan kom, want Lisa Deetlefs en Julia Cass se verdediging is rotsvas.
Daarteenoor sal die WP se verdedigers hul storie moet ken om seker te maak die immergroen doelevraat Pietie Coetzee laat die doelhok nie wéér twee keer raas soos teen die OP nie.
“Ons wou ons eerste wedstryd wen en dié doel het ons bereik. Dit was nie ons beste vertoning nie. Daar was frustrerende oomblikke, maar om steeds met 6-1 te kon seëvier, is bemoedigend,” het die WP-kaptein, Taryn Rose-Innes, gesê.
“Ek is bly dit was nie ’n maklike wedstryd nie, want is goeie voorbereiding vir die stryd teen Suidelikes.”
Die ander wedstryde vandag is die Mynahs teen Noordelikes, die Raiders pak Wits en die OP meet kragte met Noordwes.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24