Vrou ontken verhouding met Woods
2009-12-02 03:08
New York – Die gasvrou by ’n nagklub wat na bewering ’n buite-egtelike verhouding met Tiger Woods het, het gesê dié storie is minder waar as wat “daar ruimtewesens op Aarde is”.
Dié gerugte volg nadat Woods verlede week ’n misterieuse motorongeluk buite sy huis veroorsaak het.
“Dit is ‘n belaglike storie. Dit is asof hulle my vra om kommentaar te lewer oor of daar ruimtewesens op die Aarde is,” het Rachel Uchitel aan die New York Post gesê.
Die poniekoerante, The Enquirer en Star het berig dat Woods ’n buite-egtelike verhouding met Uchitel het.
Die beweerde flirtasie tussen dié twee sou glo aanleiding gegee tot ‘n gewelddadige dispuut tussen Woods en sy vrou wat tot Vrydag se motorongeluk gelei het.
Uchitel het aan die Post vertel dat sy nog net twee keer vir Woods ontmoet het toe sy as ‘n gasvrou opgetree het.
“Tiger en ek is nie vriende nie,” het sy gesê.
Sy het ook gesê dit was net per toeval dat sy en Woods op dieselfde tyd in Australië was.
Uchitel het ook gesê sy weet wie die storie aan die koerante vertel het, maar voeg by dat hulle nie vriende is nie. Sy het die vrou beskryf as ‘n prostituut en ‘n dwelmverslaafde.
“In my verklaring wil ek dit duidelik maak dat ek by ‘n nagklub werk en ‘n besigheidsvrou is. Ek het nie seks met beroemde mense nie en ek het nie ‘n buite-egtelike verhouding met Tiger Woods nie.”
-AFP