Vrae kwel steeds ná Armstrong-onderhoud
2013-01-18 08:53
Video - Lance Armstrong-onderhoud
Kyk hier hoe die fietsryer Lance Armstrong erken dat hy opkikkers in al sewe sy Tour de France-oorwinnings gebruik het.
KYK
Los Angeles – Lance Armstrong het ná jare se leuens eindelik in 'n televisie-onderhoud met Oprah Winfrey erken dat hy deurgaans opkikkers tydens sy fietsryloopbaan gebruik het, het die NY Times berig.
Die eerste deel van die onderhoud is Vrydagoggend 04:00 in die VSA en aanlyn uitgesaai.
Die gevalle held het sy opkikkerprogram as "eenvoudig en konserwatief" beskryf – 'n uitlating wat bewerings deur Usada, dat die opkikkerprogram van die US Postal-span "die mees gesofistikeerde, georganiseerde en professionele" program in die geskiedenis van sport was, weerlê.
Armstrong het verskeie mense om verskoning gevra in die onderhoud, insluitend sy voormalige masseuse, Emma O'Reilly, een van die mense wat hy beswadder het nadat hulle beweer het dat hy verbode middels gebruik het.
"Daar gaan mense wees wat dit gaan hoor en my nooit sal vergewe nie," het hy gesê.
"Ek verstaan dit."
Hy het ook gesê dat hy sy lewe lank 'n boelie was, voordat hy homself 'n minuut later weerspreek het deur te sê hy het eers 'n boelie geword toe hy sy loopbaan hervat het ná sy stryd met kanker.
Winfrey het Armstrong gevra of hy ooit gedink het dat sy opkikkergebruik verkeerd was. Hy het "nee" geantwoord en bygevoeg dat hy besef dit is skrikwekkend.
Toe Winfrey hom vra of hy ooit sleg gevoel het oor sy opkikkergebruik, het hy "nee" gesê en bygevoeg: "Dit is nog meer skrikwekkend."
Winfrey het hom toe gevra: "Het jy enigsins gevoel dat jy 'n bedrieër was?" Armstrong het geantwoord: "Nee, dit is wat my die bangste maak".
Armstrong het egter nie in die onderhoud enige nadere besonderhede oor sy opkikkergebruik gegee nie.
Hy het nie verduidelik hoe dit gedoen is of wie hom daarmee gehelp het nie.
Toe Winfrey hom oor die berugte Italiaanse dokter Michele Ferrari uitgevra het, het hy gesê dat hy nie oor ander mense wil praat nie.
Die onderhoud met Oprah Winfrey word beskou as die eerste stap vir Armstrong om sy lewenslange skorsing om te keer sodat hy weer aan driekamp-kompetisies kan deelneem.
Lees die volledige artikel hier.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
– NY Times