‘Voorblad-vloek’ eis nóg ’n grote in S-Korea
2011-08-31 08:07
Daegu, Suid-Korea – Kan David Rudisha van Kenia in die 800 m geklop word?
Dié vraag kan gevra word nadat dié wêreldrekordhouer Dinsdagaand hier op die Wêreld-atletiekbyeenkoms oor die laaste 200 m vir sy teenstanders weggehardloop het.
Wat sy vertoning merkwaardig maak, is dat sy teenstanders presies geweet het wat hy sou doen, maar hom nie van ’n goue medalje kon ontneem nie.
Rudisha het van die wegspring af voor gehardloop. Abubaker Kaki van die Soedan en Yuriy Borzakovskiy van Rusland het aanvanklik probeer bybly, maar toe Rudisha aan die einde versnel het, het hy hulle agtergelaat.
Sy wentyd was 1:43.91 – en dit was sy 24ste agtereenvolgende sege in die 800 m. Kaki was tweede in 1:44.41 en Borzakovskiy, ’n gewese Olimpiese kampioen, derde in 1:44.49.
“Dit was my plan om van meet af aan voor te hardloop en so my teenstanders onder druk te plaas. Die belangrikste was om nie enige dom foute te begaan nie. Oor die laaste 150 m het ek besluit dit is nou of nooit. Toe het ek alles gegee,” het Rudisha gesê.
Yelena Isinbayeva, die Olimpiese en wêreldkampioen in die paalspring, het Dinsdag die nuutste slagoffer van die “vloek van die voorblad” geword toe sy net sesde geëindig het.
In die media-sentrum is al van Sondag gepraat oor hoe dit telkens gebeur dat die atleet wie se foto op die voorblad van die dagprogram verskyn, onverklaarbaar in die eindrondes misluk.
Haar foto was Dinsdag op die voorblad.
Saterdag het Kenenisa Bekele (Kenia) nie die eindronde van die 10 000 m voltooi nie; Sondag is Usain Bolt (Jamaika) gediskwalifiseer toe hy te vroeg in die 100-eindronde weggespring het en Maandag is Dayron Robles (Kuba) gediskwalifiseer nadat hy die 110-hekkies gewen het.
Fabiana Murer van Brasilië het die paalspring met ’n puik hoogte van 4.85 m gewen.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24