Viljoen wil selfde in China doen
2011-08-16 10:20
Pretoria – Sunette Viljoen sal van vandag af in Sjenzen, China, probeer om die tweede keer in twee jaar ’n titel te verdedig wanneer sy aan die Wêreld-studentespele deelneem.
Op die vorige Studentespele in Belgrado, Serwië, het sy vir een van die groot hoogtepunte gesorg toe sy die spiesgooi met ’n afstand van 65.43 m gewen het. Dit was ’n nuwe Suid-Afrikaanse en Afrika-rekord. Net vier vroue-atlete het in 2009 verder gegooi.
Verlede jaar in Indië het sy haar Statebondspele-titel suksesvol verdedig.
Viljoen het nog nie vanjaar regtig met ’n groot gooi vorendag gekom nie. Haar beste poging is ’n beskeie 61.74 m, maar statisties gesproke is sy die gunsteling.
Haar spanmaat Justine Robbeson (61.26 m) en Rusland se Marina Maksimova (60.73 m) is die enigstes wat ’n realistiese kans het om haar te klop.
Gladwin Mzazi is die ander Suid-Afrikaner wat ’n titel het om te verdedig. In 2009 het hy die 10 000 m gewen.
Daar is eintlik ’n goeie kans dat die Suid-Afrikaanse atlete kan verbeter op die 8 medaljes (2 goud, 2 silwer en 4 brons) wat hulle op die vorige Studentespele gewen het.
Daar word al lankal voorspel dat André Olivier (800 m) die talent het om op internasionale byeenkomste te presteer, maar weens beserings het dit nog nie gebeur nie.
Olivier, ’n voormalige bronsmedaljewenner op die Junior Wêreldbyeenkoms, het die afgelope maand in Europa deelgeneem.
Hy vertel trots dat hy vyf keer deelgeneem en vyf keer gewen het.
“My tye was niks watwonders nie want die weer was maar goor. Dit het daartoe gelei dat die wedlope in taktiese affêres ontaard het.
“Miskien is dit ’n bedekte seën, want as dinge vir my reg op die Studente-byeenkoms uitwerk sal ek drie 800-wedlope in drie dae hardloop.
“Ek dink nie die goue medalje sal noodwendig deur die vinnigste atleet gewen word nie.
“Miskien word dit gewen deur die atleet wat op sy voete kan dink.”
Op die 2009-Spele in Belgrado is die 800 m in 1:48.02 gewen.
Olivier se beste tyd vanjaar is 1:46.84. Sy loopbaanbeste is 1:45.41.
Willie de Beer het vroeër vanjaar sy tyd in die 400?m na 45.68 s verbeter.
Sy vertoning was half en half ’n verrassing, veral omdat hy nie die vorige twee jaar deelgeneem het nie.
“Dit is my eie skuld dat ek so lank nie deelgeneem het nie,” het De Beer gesê.
“Ek het dom dinge gedoen wat daartoe gelei het dat ek my liggaam heeltemal afgebreek het. Dit het my duur te staan gekom. Ek moes eers soos ’n stout kind in die hoekie gaan sit en besin oor wat ek verkeerd gedoen het.
De Beer wou nie voorspellings oor tye waag nie.
In 2009 was die wentyd in die 400 m op die Studentespele 45.68 s.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg