Vakbonde vies oor Semenya
2009-09-14 16:45
Johannesburg - 'n Dokters- en verpleërvakbond het hul misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop Caster Semenya se private mediese inligting gelek is.
"Dít sal ongetwyfeld haar lewe onherroeplik verander en ernstige fisieke en sielkundige skade aanrig," het prof. Denise White, hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), in 'n gesamentlike verklaring met die verpleërvakbond Denosa.
"Ons doen 'n beroep op die regering om Semenya met die nodige professionele sorg en beskerming te voorsien om haar deur dié situasie te ondersteun."
Thembeka Gwagwa, hoofsekretaris van die vakbond Denosa, het in die verklaring ges het in die verklaring gesê hulle is bekommerd oor Semenya se mediese inligting wat gelek is en het 'n beroep gedoen om die vertroulikheid tussen mediese praktisyns en pasiënte te beskerm.
Die twee vakbonde het ook hul ondersteuning aan Semenya se gesin uitgespreek.
Intussen het die Suid-Afrikaanse regering ‘n brief aan die Verenigde Nasies (VN) gerig waarin hulle die manier waarop daar teenoor Caster Semenya opgetree word, bevraagteken.
Noluthando Mayende-Sibiya, minister van vroue, kinders en gestremdes het ‘n brief aan die VN se afdeling vir vrouebemagtiging (DAW) geskryf waarin sy beweer Semenya se menslikheid is aangetas.
Sy bevraagteken of dié manier waarop daar teenoor Semenya opgetree word ooreestem met die prosedures wanneer dit kom by geslagsgelykheid.
– Sapa