VSA Ope: Kan Rafa Serwiër ontspoor?
2011-09-12 09:43
New York. – Rafael Nadal hoop die sesde keer sal vir hom skeepsreg wees wanneer hy Novak Djokovic Maandagaand in die eindstryd van die Amerikaanse Ope pak.
Die Serwiese tennisspeler het hul vorige vyf kragmetings gewen, maar van die 28 waarin hulle in alle toernooie gespeel het, het Nadal 16 gewen.
Nadal van Spanje moet nou ’n einde daaraan maak as hy sy titel wil behou, wat ook sy 11de Grand Slam-titel sal wees.
Djokovic soek Maandagaand sy eerste titel in die Amerikaanse Ope nadat hy vanjaar reeds die Australiese Ope en die Wimbledonse titel gewen het.
Djokovic het die seisoen reeds 63 van sy 65 wedstryde gewen. Hy het Nadal ook vanjaar as die beste speler ter wêreld onttroon.
Nadal het hom in die eindstryde in Indian Wells, Miami, Rome, Madrid en op Wimbledon teen Djokovic vasgeloop.
Die Spanjaard meen sy grootste stryd is om homself te oortuig hy kán wen. “Ek is ontevrede met my geestelike toestand in wedstryde vanjaar teen hom, want daar was oomblikke dat ek nie oortuig was ek kan wen nie.”
Nadal, wat in sy 14de Grand Slam-eindstryd sal speel, het die Brit Andy Murray (4de gekeur), met 6-4, 6-2, 3-6, 6-2 in hul halfeindstryd geklop.
Djokovic het die vyfmalige kampioen in die Amerikaanse Ope, Roger Federer, met 6-7 (7/9), 4-6, 6-3, 6-2, 7-5 geklop en daardeur sy sesde eindstryd in ’n Grand Slam-toernooi gehaal.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24