Twee SA'ners nog staande in branders
2010-11-19 08:32
Kaapstad - Oahu, en meer spesifiek die noordelike kusstrook van dié eiland, is die middelpunt van die surfwêreld vir die volgende ses weke.
En, asof dié eiland die wêreld se beste surfer wou verwelkom, het Hawaiise surfseisoen vandeesweek met ’n reuse-swell begin.
Branders van oor die 20 voet het Pipeline se gevreesde rif gepeper, met ’n groep hardebaarde wat hul lywe en surfborde op die spel geplaas vir daardie onbeskryflike sensasie om tyd in ’n Pipe-barrel deur te bring.
Die groot branders het ook gesig gewys by die eerste byeenkoms van die Triple Crown, die Reef Hawaiian Pro by Haleiwa.
Daar is heelparty Suid-Afrikaners wat ingeskryf het vir dié kompetisie, maar slegs Shaun Joubert (Mosselbaai) en Travis Logie (Durban) is nog staande.
Die 19-jarige Joubert, een van die blinkste surfsterre in die land, het reeds twee uitdunne oorleef en lyk heel op sy gemak teen gedugte, veel meer ervare teenstanders.
Die surfgemeenskap se oë is ook op Joel Parkinson gerig by die Haleiwa-byeenkoms. Dié surfer van Australië het vroeër vanjaar – kort voor die Billabong Pro by Jeffreysbaai – ’n liederlike besering in ’n frats-surfongeluk opgedoen.
Een van sy bord se vinne het sy hak só diep oopgekloof, dat daar aanvanklik gevrees is dat hy dalk nooit weer sou kon surf nie. Parko het egter vasgebyt en gister ’n verstommende 19.87 uit ’n moontlike 20 punte in sy eerste uitdun terug aangeteken.
Vir dié van julle wat wil weet of Kelly Slater wel gaan opdaag in Hawaii, het ek steeds nie ’n antwoord nie. Wat ek wel weet, is dat Quiksilver, sy hoofborg, reeds ’n reeks gholfklere begin ontwerp het sou Kelly besluit om volgende jaar ’n beroep-gholfspeler te word.
’n Ander gerug wat die surfgemeenskap op hol het, is dat die wêreld se gewildste surfer, Dane Reynolds, aan die einde van die Pipe-byeenkoms die kompeterende arena gaan vaarwel toeroep.
Stab Magazine, ’n aweregse surftydskrif in Australië, het Reynolds in ’n artikel aangehaal waarin hy sou sê dat Pipeline waarskynlik sy laaste surf-kompetisie gaan wees.
Reynolds beweer hy’s verkeerd aangehaal en het toe sommer ook op sy persoonlike blog, marinelayersproductions, gal gebraak oor die ekonomiese wyse waarop Stab met die feite te werk gegaan het. Maar as julle steeds wonder, nee, hy gaan nie op 24-jarige ouderdom uittree nie!
Dis amper Desember en dít beteken dis weer tyd vir Wavescapes se jaarlikse surf-filmfees. Surfflieks sal by verskeie plekke in die Skiereiland vertoon word, maar die gewildste een sal sonder twyfel die silwerdoek op die strand by Clifton wees.
Ek verneem Sea of Darkness, ’n fliek oor die dwelmmisbruik van bekende surf-avonturiers, gaan onder meer vertoon word.
Ek’s jammer dat ek die draer van slegte nuus moet wees, maar die Kaap gaan nie dié naweek saamspeel wat betref goeie surftoestande nie.
Die branders gaan Saterdag klein wees, met ’n redelike ligte noordwestewind, terwyl dit Sondag ietwat groter gaan wees, met die wind dan meer uit ’n suidelike rigting.
Daar’s ’n klein plekkie in die Overberg wat wél sal werk.
As julle leidrade wil hê, stuur vir my ’n e-pos na craigjarvis@vodamail.co.za.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24