Triomf ná pyn vir Evans
2011-10-24 08:41
Oudtshoorn – Kevin Evans (Nedbank 360Life) moes Saterdag eers ’n slag goed skrik en pyn verduur voordat hy en David George die DCM Cape Pioneer Trek-bergfietstoer kon wen.
Dié mini-drama het begin toe ’n fotograaf in een van die tegniese gedeeltes langs Evans gedraf het en probeer het om ’n geselsie met hom aan te knoop.
Die laaste woorde in dié gesprek was skaars geuiter toe Evans ’n oordeelsfout tussen ’n klomp los klippe begaan het.
Die volgende oomblik het hy, met sy voete steeds vas in sy bergfiets se pedale, neergeploeg. Hy was blitsig terug op sy fiets, maar dit was duidelik dat hy erge pyn verduur terwyl hy voortgejaag het.
Evans was effens moedeloos toe hy oor die eindstreep ry.
“Ek het regtig gehoop my beurt om terugslae te beleef, is vir eers verby, maar duidelik is dit nie. Ek dink van my ribbes is dalk gekraak.
“Gelukkig is dié my laaste ren vir die seisoen. Dit sou nogal lekker gewees het om my vakansie sonder pyn te begin.”
George het gesê hul sege in die toer span die kroon op ’n goeie seisoen. “Ons het vanjaar verskeie goeie uitslae behaal. Al wat gekort het, was ’n algehele sege in ’n bergfietstoer. Ons het dit nou reggekry; nou kan ons gaan vakansie hou.”
Dit was seker nie ’n verrassing nie dat Christoph Sauser (Songo.info) en Max Knox (Ghost) ook Saterdag se laaste skof (George na Oudtshoorn) gewen het.
Dit was hul vierde skofsege. Hul wentyd vir die skof oor 98 km was 3 uur 31 minute en 50 sekondes. Neil MacDonald en Waylon Woolcock (RE:CM) was tweede in 3:34:30 en Ben-Melt Swanepoel en Nico Bell (borglose span) derde in 3:34:36.
Swanepoel en Bell, wat algeheel tweede, 32 minute agter Evans en George, geëindig het, se vertoning verdien vermelding. Dié twee is amateurs wat daagliks ander werk moet doen sodat hulle hul rekeninge kan betaal. Bell kla nie, want fietsry is sy passie.
“Maar dit sal darem lekker wees as ek ’n borg kan kry en vir ’n paar jaar net kan fietsry.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24