Tragedie tref Giro d'Italia
2011-05-10 10:53
Kaapstad - Die Belgiese fietsryer Wouter Weylandt is dood nadat hy Maandag tydens die derde skof van die Giro d'Italia van sy fiets geval het.
Weylandt het teen 'n hoë spoed by 'n afdraande sowat 20 kilometer voor die eindpunt in Rapallo in die noorde van Italië geval.
Die 26-jarige Belg se valhelm moes uitmekaar gesny word vir paramedici om hom te behandel.
"Ons het byna dadelik by die ongelukstoneel opgedaag omdat ons direk agter Weylandt se groep was," het die Giro se dokter, Giovanni Tredici, gesê.
"Hy was bewusteloos en het 'n gekraakte skedel en beserings aan sy gesig gehad. Daar was ook baie bloed. Na 40 minute van noodhulp was daar niks meer wat ons kon doen nie," het die dokter bygevoeg.
Weylandt se span, Leopard-Trek, het 'n foto van die fietsryer op hul webtuiste saam met 'n verklaring geplaas.
Organiseerders van die Giro het skof drie se prysuitdelingseremonie weens dié tragedie gekanselleer.
David Millar van Brittanje het Maandag se skof gewen. Die Brit is ook die Giro se algehele voorloper.
Leopard-Trek se spanbestuurder, Brian Nygaard, het gesê die res van die span sal nog besluit of hulle aan die res van die fietstoer, wat op 29 Mei in Milaan eindig, wil deelneem.
Die Giro d'Italia word as een van die wêreld se gevaarlikste padfietstoere beskou weens al die steil afdraandes.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24