Tiger se 'skelmpie' sê jammer
2009-12-14 21:01
Orlando, Florida - Die Tiger Woods-sage het 'n bisarre wending geneem toe een van sy beweerde minnaresse sy vrou, Elin, om verskoning gevra vir die pyn wat sy veroorsaak het.
Cory Rist het op die TV-program Today verskyn en gesê Woods het in 2006 gesê sy huwelik is op die rotse.
"Ek verstaan dat dinge moeilik was by die huis en nie dít wat op TV uitgesaai is nie. Volgens hom was dinge rof en sou hulle skei, maar sy was swanger en hulle moes daardeur kom," het sy gesê.
"Hy sou daar bly omdat sy swanger is. Oor sy beeld en reputasie."
Volgens Rist het haar verhouding met Woods in Junie 2006, 'n maand ná die dood van Woods se pa, Earl Woods, begin.
Woods se eerste kind saam met Elin, Sam, is 'n jaar later ná die Amerikaanse Ope in 2007 gebore. Die paartjie se ander kind, Charlie, is 10 maande gelede gebore.
Minstens 12 vroue beweer dat hulle verhoudings met die 33-jarige Woods gehad het.
"Ek weet hoe hy tyd gehad het vir so baie vroue in sy lewe nie. Ek dink nie hy is 'n eerlike man nie."
Sy het Elin, wat 'n stuk grond op 'n eiland in Swede gekoop het, om verskoning gevra.
"Ek kan my net haar pyn indink en ek is jammer. Ek is jammer vir haar pyn. Ek haat dit dat ek deel daarvan is," het Rist gesê.
Intussen het een van Woods se hoofborge, Nike, sy steun aan dié gholfspeler toegesê.
Phil Knight, voorsitter van Nike, het Maandag gesê hy is seker dié storie sal oorwaai.
"Ek dink as sy loopbaan verby is, sal mense dié aangeleentheid as 'n tydelike afwyking beskou."
– Sapa-AFP