Tiger in sukkelveld met yskoue setstok
2010-08-16 08:27
Sheboygan (Wisconsin) – Tiger Woods het Saterdag hier in die derde ronde van die Amerikaanse PGA-toernooi op die Whistling Straits-baan in die verkeerde rigting beweeg en Sondag se laaste ronde 10 houe agter die voorloper begin.
Nadat hy vroeër slegs vyf houe agter die voorloper was, het die Amerikaanse gholfspeler eindelik met twee voëltjies klaarmaak om gelyk aan syfer te eindig.
Hy het Sondagaand (SA tyd) 10 houe agter die voorloper, Nick Watney, ook van Amerika, afgeslaan op 213 houe – 3 minder as die baansyfer.
“Ek het die bal vandag beter geslaan as op die eerste twee dae. Niks het egter vir my reg verloop nie, want ek kon nie die sethoue inslaan nie,” het Woods gesê.
“Maak nie saak hoe goed jy die bal slaan nie, as jou setstok nie werk nie, kom jy nêrens nie.”
Die chaos in sy persoonlike lewe beïnvloed steeds sy spel en hy loop gevaar om sy status as die voorste speler in die wêreld prys te gee.
Hy beklee die nr. 1-plek op die ranglys reeds ’n rekordgetal van 270 weke.
Selfs ’n plek in die Amerikaanse Ryderbeker-span is nie ’n uitgemaakte saak nie.
Die 71 houe wat hy in die eerste ronde gespeel het, was die eerste keer in agt rondes dat hy beter as baansyfer kon eindig.
Saterdag was speeltoestande ideaal, met die mis wat spel op die eerste twee dae vertraag het iets van die verlede en kalm, windstil toestande wat geheers het.
“Die vlaggies is in baie toeganklike plekke en jy kan aggressief wees met jou naderhoue,” het Woods gesê.
Op die eerste drie putjies wou sy sette vir voëltjies nie inrol nie. Op die vierde het sy bofhou in die ruveld beland en hy kon slegs uitspeel skoonveld toe.
Sy set vir baansyfer het verby die blikkie gerol – die eerste van twee agtereenvolgende brouhoue.
Sy frustrasie was duidelik sigbaar.
“Dit is maar net een van daardie jare. Behalwe vir die eerste twee weke van die jaar het ek nog nie die bal goed geslaan nie; en selfs in daardie twee weke wou die sethoue net nie inrol nie.”
Tog glo Woods daar is rede tot optimisme ná die vier voëltjies wat hy Saterdag op die tweede nege aangeteken het.
“Hopelik kom dinge nou stadig aan reg.
“Dit is waaroor ek bly is. Dit is nie asof ek aan agt verskillende dinge werk nie.
“Dis net ’n paar sleutelaspekte – en dit voel reeds veel bete.”
Teen druktyd was spel in Sondagaand se laaste ronde nog aan die gang.
- Sport24