Tiger-hulle kom SA toe
2011-04-13 07:06
Johannesburg - Die super-sterre van wêreldgholf – spelers soos Tiger Woods, Martin Kaymer, Phil Mickelson en Rory McIlroy – sal in 2012 in Suid-Afrika in aksie wees.
Die heel beste spelers op die planeet sal om die grootste wentjek in wêreldgholf in Suid-Afrika meeding nadat besluit is om die gesogte WGC-reeks na Afrika uit te brei.
Gareth Tindall, die kommissaris van die Sonskynreeks, het Dinsdag aangekondig dat die toernooi ’n totale prysgeld van $10 miljoen (sowat R66 miljoen) sal hê. Dis meer as enige ander toernooi ter wêreld.
Die voorste 70 spelers in die wêreld sal kwalifiseer.
Tindall het gesê dit sal as die Toernooi van Hoop bekend staan en op die bewusmaking van armoede en die vigspandemie in Afrika fokus.
“Dis die grootste mylpaal in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse beroepsgholf en iets waaraan die Sonskynreeks vir etlike jare gewerk het.”
Die finale jawoord vir die toernooi in Suid-Afrika is verlede week by Augusta (waar die Amerikaanse Meesterstoernooi plaasgevind het) gegee.
“Die konsep van ’n wêreldreeks en die globale uitbreiding van die spel word die laaste paar jaar al hoe meer bespreek, en die feit dat nie een lid van die Wêreldfederasie van Gholf gekant was teen ons insluiting in die WGC-reeks nie, wys dat daar vertroue in ons vermoë is om ’n groot toernooi aan te bied.”
Tindall het gesê die idee is om die toernooi so naby moontlik aan Wêreldvigsdag, op 1 Desember, aan te bied. “Die besprekings rondom datums en waar dit aangebied sal word, sal nou in alle erns begin. In die laaste maand van die jaar is daar baie toernooie wêreldwyd wat in ag geneem moet word, maar dalk is ons bevoorreg genoeg dat ander toernooie geskuif word ter wille van ons s’n.”
Al het die Gauteng-streek van die beste uitdagende bane, is ’n kus-toernooi nie uitgesluit nie.
Die oorspronklike ooreenkoms bepaal dat die Toernooi van Hoop vir vyf jaar aangebied sal word, maar Tindall het gesê dit kan verleng word. Hy wou nie die sluier lig oor die borg nie, maar het oor die prysgeld van $10 miljoen gesê: “Dis wat jy nodig het as jy vir jou land ’n toernooi van hierdie grootte en belangrikheid wil verseker.”
Daar is ook by Augusta besluit om vanjaar se Suid-Afrikaanse Ope ’n week later aan te bied, sodat dit nie meer sal bots met die Presidentebeker in Australië nie.
Albei toernooie was eers geskeduleer vir die week van 14 November. Dit was egter problematies omdat die major-kampioene Ernie Els, Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen en Retief Goosen vir die internasionale span sal kwalifiseer.
Die SA Ope sal nou in die week van 21 November plaasvind, waarskynlik in Pretoria, en die Alfred Dunhill-toernooi by Leopard Creek in die Presidentebeker-week.
“Natuurlik het ons spelers se sukses van die laaste jaar baie gehelp tydens ons besprekings,” het Tindall gesê.
“Met Charl wat die Meesterstoernooi gewen het, Louis wat die Britse Ope-kampioen is en Tim Clark wat in 2010 se Spelerstoernooi – volgens die Amerikaners die vyfde major – geseëvier het, hou Suid-Afrikaners drie van die vyf grootste titels. Die reënboogvlag is gehys voor die PGA-reeks se hoofkwartiere en Suid-Afrikaanse gholf staan sterk.”
Vir die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter
- Sport24