Tiger en Elin glo finaal verby
2010-04-15 10:39
Orlando - Tiger Woods sál binne die volgende paar weke van sy vrou geskei wees, het talle nuusagentskappe in Amerika berig.
Volgens die webwerf van die Europese koerant, die Mirror, het vriende beweer sy “goedkoop” televisie-advertensie was die “laaste strooi” vir die voormalige model, Elin Nordegren.
Sy het glo geweier om sy vertoning by die Amerikaanse Meesters in Augusta te aanskou en het ‘n vlug uit Florida geneem die dag wat hy terug huistoe gekeer het.
Elin (30) is glo “gewelddadig kwaad” oor die Nike-advertensie op die ESPN-sportkanaal wat voor die toernooi uitgesaai is.
Die swart en wit advertensie behels Woods wat in stilte na sy pa, Earl se stem luister.
“Elin was baie kwaad oor die advertensie en sê dit was ‘n goedkoop ding om te doen,” het ‘n vriend van haar aan die tydskrif, People in Amerika gesê.
“Ek sal nie verbaas wees as sy binnekort vir ‘n egskeiding vra nie.”
Die televisieprogram, Entertainment Tonight het ook beweer die vyf-jaar lange huwelik is “defenitief oor” en het gesê Elin is besig om ‘n egskeiding te finaliseer wat £200 miljoen (R2 miljard) in haar sak sal jaag.
’n Korrespondent vir Entertainment Tonight het gesê: “Bronne het aan my vertel die huwelik is oor.”
“Sy is te veel seer gemaak, sy is gevoelloos,” het ‘n vriendin gesê.
"Sy gee dood eenvoudig nie meer om nie.”
-Sport24