Tiger bieg oor ‘vergrype'
2009-12-03 06:36
Sapa-AFP
New York – Die gholf-superster Tiger Woods erken in ’n verklaring op sy webwerf hy het “vergrype gepleeg” en sy gesin in die steek gelaat.
Dit bevestig klaarblyklik gerugte dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het.
“Ek het my gesin in die steek gelaat en ek is innig spyt oor dié vergrype,” skryf Woods.
Die getroude Woods het ook ’n beroep op privaatheid gedoen nadat berigte in poniekoerante tot groot mediabelangstelling gelei het oor sy beweerde verhoudings met ander vroue.
“Ek was nie getrou aan my waardes en die gedrag wat my gesin verdien nie. Ek is nie sonder foute nie en is baie ver van perfek.
“Ek is besig om saam met my gesin met geslote deure deur my gedrag en persoonlike mislukkings te werk. Dié gevoelens moet net deur ons gedeel word,” skryf hy.
Hy skryf ook hy “sal daarna streef om ’n beter persoon en die man en pa te wees wat (my) gesin verdien”.
Maar hy vra ook die media moet hom in vrede laat.
Woods se verklaring verbreek sy stilswye nadat hy Vrydag in ’n raaiselagtige motorongeluk buite sy huis in Florida betrokke was.
Dit het gelei tot gerugte in die media dat hy van sy vrou wou wegkom. Sy was blykbaar woedend oor berigte dat hy ’n verhouding het met me. Rachel Uchitel, ’n New Yorkse vrou wat by ’n nagklub werk.
Uchitel ontken dit. Sy het gesê sy is nie eens met Woods bevriend nie en het nie ’n seksuele verhouding met hom gehad nie.
Die skindertydskrif Us Weekly het gister ’n stemopname op sy webwerf geplaas. Daarin smeek Woods na bewering ’n ander vrou om haar selfoon-stemboodskap te verander om hul verhouding vir sy vrou weg te steek.
Die tydskrif berig ’n kelnerin van Los Angeles, me. Jaimee Grubbs (24), het langer as twee en ’n half jaar ’n verhouding met Woods gehad. Hulle het 20 keer vir seks ontmoet en warm SMS’e aan mekaar gestuur.
Woods se openbare apologie vir sy “sondes” is daarop gemik om sy eens ultra-winsgewende en skoon beeld te red.
- Die Burger