Tiger Woods skuil dalk in SA
2010-01-07 05:01
Sanri van Wyk
Johannesburg - Tiger Woods is moontlik in Afrika en soos sommige dit wil hê, dalk selfs in Suid-Afrika.
Verskeie webwerwe gons met nuus dat die wêreld se beste gholfspeler na Afrika gevlug het om die volgehoue media-aandag te ontglip.
Die webtuiste TMZ het berig: “As jy almal glo, is Tiger Woods in Florida, Arizona, New York, Kalifornië en op ’n boot, maar mense wat die dag ná sy motorongeluk met hom gepraat het, het aan TMZ gesê sy plan is om landuit te gaan en in Afrika te skuil.”
Luidens dié berig was Woods se plan baie duidelik – om na ’n vriend se landgoed in Afrika te gaan en “heeltemal” uit die openbare oog te “verdwyn”.
“ ’n Bron glo selfs hy is omtrent dadelik weg,” berig dié webwerf.
Volgens die webwerf limelife.com is Woods in Suid-Afrika om “wild te besigtig”.
Die gholfspelers Ernie Els, Retief Goosen en David Frost is onder andere kennisse van Woods en elkeen het ’n landgoed in Suid-Afrika.
Woods en sy vervreemde vrou, Elin, het in 2003 by die Shamwari-wildreservaat buite Port Elizabeth in die Oos-Kaap tuisgegaan en daar verloof geraak. Adrian Gardiner, eienaar van dié wildreservaat, het Woensdag gesê Woods gaan nie dié keer daar tuis nie.
“Ons het vroeër ook baie navrae gekry oor gerugte dat Elin by Shamwari sou tuisgaan.”
Mike Green, kommunikasiebestuurder van Sunshine Tour, die organisasie wat beroepsgholftoernooie in Suid-Afrika reël, het gesê hy hoor ook dat Woods in Suid-Afrika is, maar hy kan dit nie bevestig nie.
Die agentskap wat Woods se sake bestuur, het teen druktyd nog nie op Beeld se navrae gereageer nie.
- Beeld