Tiger Woods se dokter vasgetrek
2009-12-15 13:55
New York - 'n Kanadese dokter wat die gholfheld Tiger Woods behandel het, asook verskeie ander sportsterre, word ondersoek op vermoede dat hy atlete met onwettige middels bedien het.
The New York Times het Maandag op hul webwerf berig dat dr. Anthony Galea in September betrap is met menslike groeihormone en Actovegin, 'n middel wat vanuit 'n kalf se bloed geput word.
Die dokter is toe op 15 Oktober in hegtenis geneem.
Die gebruik, verkoop of invoer van Actovegin in die VSA is onwettig.
Die FBI het 'n ondersoek geloods wat deels steun op die rekords wat op Galea se rekenaar gevind is. Dié data verwys glo na talle bekende atlete, het mense betrokke by die ondersoek glo aan The New York Times gesê. Die bronne wou egter anoniem bly.
Volgens die koerant het Galea 'n metode gevind wat atlete help om vinniger van operasies te herstel. Die dokter het Woods se huis in Florida glo vier keer besoek in Februarie en Maart, om hierdie verbode behandeling aan die gholfspeler te bied vir sy beseerde knie.
- Sapa