Tiger Woods: óf gholf óf Elin
2009-12-11 14:21
Windermere, VSA - Tiger Woods is blykbaar bereid om op te hou gholf speel as dit sy huwelik sal red.
Volgens The Sun se webblad, het hy vir sy vrou gesê hy “sal enigiets doen” nadat sy buite-egtelike verhoudings met omtrent 10 vrouens amper sy huwelik vernietig het.
Elin Nordegren (29) het egter besluit om by hom te bly, ter wille van hul kinders.
Volgens The Sun het sy wel ‘n streng ultimatum geplaas: “Dis gholf... of ek.”
Die voormalige model het ‘n lys reëls vir Woods opgestel wat hy streng sal moet navolg as hy haar wil terugwen.
Indien sy hom skei, kan sy met R752 miljoen wegstap.
Sy dring egter daarop aan dat hy sy huwelik en sy kinders moet hoër ag as sy gholfloopbaan.
“Die maklikste sal wees om hom te skei en die geld te vat,” het ‘n vriendin van Nordegren gesê.
“Sy is egter bereid om hom ‘n tweede kans te gee, ter wille van die kinders.
“Hy sal egter moet hard werk daaraan om haar vertroue terug te wen en dit sal ‘n ruk wees voordat hy sonder Elin op wêreld toere sal kan gaan.”
Dit blyk asof Woods wel gereed maak vir reis. Lede van die gholfster se personeel is skynbaar besig om sy seiljag, Privacy, gereed te kry.
- Sport24