Tien boksers van SA dra gordels, maar...
2011-12-30 09:54
Port Elizabeth – Dit was in 2011 ’n jaar van gemengde welslae vir Suid-Afrikaanse boks.
Tien Suid-Afrikaners het kampioenskapsgordels van die verskillende wêreldorganisasies, maar min van dié boksers word werklik as volwaardige wêreldkampioene beskou.
Hulle is Lubabalo Msuthu (WBF – kapokgewig), Moruti Mthalane (IBF – vlieggewig), Nkosinathi Joyi (IBF – mini-vlieggewig), Hekkie Budler (IBO – strooigewig), Takalani Ndlovu (IBF – junior veergewig), Thomas Oosthuizen (IBO – super-middelgewig), Tshifhiwa Munyai (IBO – junior veergewig), Malcolm Klassen (WBF – junior liggewig), Ali Funeka (WBF – junior weltergewig) en Chris van Heerden (IBO – weltergewig).
Tussen hulle word eintlik net Ndlovu se titel internasionaal as belangrik beskou.
Hy het dié titel gewen deur Steve Molitor van Kanada te klop.
Ndlovu (5), Joyi (1), Oosthuizen (7), en Mthalane (2) is darem op die gesaghebbende tydskrif The Ring se ranglys.
Joyi is waarskynlik Suid- Afrika se beste bokser, maar sy gebrek aan gereelde gevegte het dalk reeds sy loopbaan gesink.
Sedert November 2008 was hy maar drie keer in aksie.
Sy laaste geveg was in Januarie, teen Katsunari Takayama van Japan.
Boonop het dié geveg net drie rondes geduur voordat dit gestaak is weens ’n sny aan Takayama se kop.
Die geveg het nie ’n uitslag opgelewer nie.
Suid-Afrikaanse boks sukkel egter met mediadekking en toeskouerondersteuning – en daarom ook om vooruit te gaan.
Vanjaar is 69 beroepstoernooie aangebied, teenoor verlede jaar se 77.
Die meeste toernooie is in Gauteng en in die Oos-Kaap gehou.
Daar was altesaam 26 titelgevegte, wat een meer as verlede jaar is.
In sommige van dié gevegte was die boks van só ’n swak gehalte dat dit ’n skande was om dit titelgevegte te noem.
Suid-Afrikaanse boksers was in 21 titelgevegte van wêreldorganisasies betrokke.
– Supersport.com