Tennisliefling versoen met pa ná jare van hel
2011-09-29 11:52
Sydney – Die Australiese tennisster Jelena Dokic het agt jaar nadat sy alle bande met haar pa weens sy vreemde gedrag verbreek het, die strydbyl begrawe.
"Ek wil graag mediaberigte dat ek met my pa, Damir Dokic, herenig het, bevestig," het Dokic, wat in Serwië gebore is, in 'n verklaring gesê.
"Ek en my lewensmaat, Tin Bikic, het my pa by sy huis besoek om 'n einde aan die onenigheid te bring."
Dokic het opslae gemaak toe sy in 1999 die eerste gekeurde Martina Hingis in die eerste ronde van die Wimbledon-toernooi geklop het.
Sy het die tenniswêreld aan die brand gespeel en was in 2002 die vierde beste vrouespeler, maar het vir jare gesukkel om uit die kloue van haar berugte pa te kom.
Die familie-twis het 'n reeks bisarre voorvalle ingesluit.
Haar pa is by Wimbledon se All England-klub verbied nadat hy in 'n stadium beweer het dat sy dogter ontvoer is.
In 2009 is hy daarvan aangekla dat hy die Australiese ambassadeur in Serwië gedreig het en het die polisie onwettige wapens in sy besit gevind. Hy het 12 maande in die tronk deurgebring.
In 1999 het 'n besope Damir in die middel van die pad gaan lê omdat hy verbied is om na Dokic se wedstryde in ’n toernooi in Engeland te kyk.
Die daaropvolgende jaar is hy by Wimbledon ook die deur gewys nadat hy ’n joernalis se selfoon verwoes het.
In 2001 het hy die organiseerders van die Australiese Ope daarvan beskuldig dat hulle wil hê sy dogter moet in die eerste ronde verloor.
Damir Dokic het sy gesin toe gedwing om Australië te verlaat en na Serwië terug te keer.
Twee jaar later het Jelena Dokic haar gesin verlaat.
Teen die tyd wat sy bande met haar pa vebreek het was sy 600ste gekeur.
"Ek het gevra vir die ontmoeting sodat almal met hul lewens kan voortgaan," het die 28-jarige volgens 'n berig in die Sydney Daily Telegraph gesê.
Dokic het haar tennisloopbaan weer op koers gekry en in 2009 die kwarteindronde van die Australiese Ope gehaal.
Sy is tans 72ste gekeur.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24