'Te veel druk op Bafana'
2013-01-21 08:45
Durban – Gordon Igesund, afrigter van Bafana Bafana, sê die druk om weer soos in 1996 die Afrikabeker-toernooi te wen is besig om sy spelers negatief te beïnvloed.
Igesund het Sondag in Durban, waar sy span die res van hulle Groep A-wedstryde sal speel, gesê die huidige span moenie vergelyk word met die "legendes" van 1996 nie.
Bafana Bafana het sy Afrikabeker-veldtog vir 2013 afgeskop met 'n teleurstellende, doellose gelykopuitslag teen die Kaap Verdiese Eilande in Johannesburg.
"Daar is heelwat gesprekke oor die span van '96, dis die heeltyd voor ons," het Igesund gesê. "Die spelers sien dit en lees dit die hele tyd... Dis iets wat nie daar was nie, en wat nie daar behoort te wees nie. Dit is geskep. So ons moet daarmee afreken."
Lucas Radebe, Mark Fish, Neil Tovey en Mark Williams was deel van die span wat in 1996 die toernooi gewen het.
"Ons spelers wil dit nadoen, die land wil hê hulle moet... ek dink dit dien as goeie motivering," het Igesund gesê. "Die span van '96 is vol legendes en hulle het fantasties gedoen maar dis druk wat geskep is," het hy gesê.
"(Spelers) behoort nie nou daaraan te dink nie, hulle behoort aan elke wedstryd te dink soos dit kom."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP