Tamaai stryd wag
2011-07-03 12:39
Johannesburg - Van Wimbledon na Potchefstroom.
Dít is wat hierdie week op Kevin Anderson en sy Suid-Afrikaanse spanmaats wag in die Davisbeker-tenniskragmeting teen Nederland by die Noordwes-Universiteit.
Anderson-hulle verruil die groen gras van Wimbledon om die eerste keer ooit langs die Mooirivier te gaan speel.
Dit gaan egter allesbehalwe ’n piekniek wees.
Die manne van die land van die klompe is nou nie juis huishoudelike tennisname nie, maar hulle is net so oorgehaal soos die gasheer om koning te kraai en te kwalifiseer vir ’n uitspeelstryd om ’n plek in die Wêreldgroep aanstaande jaar.
Robin Haase en Jesse Huta Galung rol nou nie so maklik van die tennistong af soos Rafa Nadal en Roger Federer nie, maar die Suid-Afrikaners besef hulle sal vir hulself ’n stewige slagyster stel as hulle dié Hollanders onderskat.
Anderson, wat verlede week in die tweede ronde van Wimbledon teen Novak Djokovic verloor het, en Wesley Moodie, wat in die derde ronde van die dubbelspel saam met sy speelmaat Dick Norman vasgeval het, het albei gisteroggend in die land aangekom.
Die laaste keer toe Anderson, Suid-Afrika se voorste speler, teen sy Nederlandse eweknie, Haase, te staan gekom het, was in 2008 – en toe was dit die lenige blondekop SA Ope-kampioen wat die slegste daarvan afgekom het.
Baie water het egter daarna in die see geloop en Anderson is nou ’n veel meer bedrewe speler en ook beter daaraan toe as Haase op die wêreldranglys (34 teenoor 58), maar hy besef steeds daar wag ’n kwaai stryd op hom.
Dit is die eerste keer in bykans drie jaar dat hy weer vir Suid-Afrika in die Davisbeker-reeks speel, en hy sê ná sy sukses in die SA Ope in Februarie by Montecasino, kan hy nie wag om weer voor sy eie mense te speel nie.
“Ek het nog nooit in Potchefstroom gespeel nie, maar ’n hardebaan is my gunsteling-oppervlak – en ek sien uit na dié uitdaging,” het Anderson gister gesê.
“Ek is ook oorgehaal om enkels én dubbels te speel indien dit van my verlang word.”
Die SA afrigter, John-Laffnie de Jager, sal die komende week moet kopkrap oor nie net sy dubbels-kombinasie nie, maar ook wie hy as tweede enkelsspeler saam met Anderson gaan inspan.
Die keuse is tussen Izak van der Merwe en Rik de Voest, maar De Jager kan gerus wees dat wie ookal speel, hy die span gewis nie in die steek sal laat nie.
Die Nederlanders het ’n terugslag beleef deurdat hul naasbeste enkels-speler, Thiemo de Bakker, moes onttrek weens ’n besering.
Haase het ook las van ’n kniebesering, en sou hy nie die wedloop teen tyd wen om Vrydag te speel nie, sal dit ’n gevoelige slag vir die besoekers wees.
Davisbeker-tennis is egter ’n ander dierasie, waar ranglys-posisies nie altyd ’n maatstaf is van wat verwag kan word nie.
Die veggees om vir jou land te presteer en die hart van die speler, het al dikwels baie swaarder geweeg as die status wat jy op ’n ranglys het.
* Vrydag word twee enkelspel-wedstryde beslis, met die dubbelspel Saterdag en die omgekeerde enkelspelle Sondag.
- Rapport