Switser jaag Epic-rekord los
2011-04-01 08:15
Worcester - Switserland se Christoph Sauser het Donderdag die Absa Cape Epic se rekordboeke herskryf toe hy die vierde skof van dié agtdaagse bergfietstoer saam met sy Suid-Afrikaanse spanmaat, Burry Stander, gewen het.
Met sy sege in die tydtoets oor 32 km hier in 1 uur, 10 minute en 1 sekonde het Sauser sy 19de skofsege in die Epic behaal.
Hy is nou die alleenrekordhouer van die meeste skofoorwinnings in die Epic. Tot voor Donderdag het Sauser dié rekord met Suid-Afrika se Shan Wilson deel.
Sauser en Stander het ook hul algehele voorsprong vergroot en is nou byna 8 minute voor die Duitsers Hannes Genze en Jochen Kaess (Multivan Merida), wat wéér tweede in die skof was en hul algehele tweede plek ook gekonsolideer het.
Die verdedigende kampioene, Karl Platt en Stefan Sahm van Duitsland, is derde, maar nou omtrent 11 minute agter Sauser en Stander.
Platt en Sahm (Bulls) was die Duitse duo wat die laaste paar jaar die lewe vir Stander en Sauser moeilik gemaak het in die Epic, maar nou is dit Genze en Kaess.
Die 23-jarige Stander het gesê dat hy nou al gewoond daaraan is om deur Duitsers gejaag te word.
“Ek dink nie dat een van die twee Duitse spanne ons vernaamste bedreiging is nie, maar wel die roete.”
Dit was ook belangrik vir Sauser en Stander om met die tydtoets, wat hul sterkpunt is, hul voorsprong te rek.
“Ons moet nou net aanhou met dít wat ons die laaste paar dae gedoen het. Dit is nie nodig om kanse te waag nie, want ons wil nie tyd teruggee aan ons teenstanders nie,” het Stander gesê.
Vandag is die langste skof in vanjaar se Epic. Die aksie begin om 07:00 en eindig 143 km later op Oak Valley in Elgin.
Deelnemers se vernaamste uitdaging van die dag sal die berugte Groenlandberg wees. Dié klim kom ná 100 km en is teen ’n gradiënt van 15%.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24