Swart 'het voor vragmotor ingery'
2011-01-19 22:00
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse fietsryer Carla Swart is dood nadat ‘n vragmotor haar tydens ‘n oefenrit getref het, het Fietsry Suid-Afrika (FSA) Woensdag gesê.
Die 23-jarige is Woensdagoggend op die pad na Marquard in die Vrystaat deur ‘n vragmotor getref.
Die spanbestuurder van FSA, Barry Austin, het gesien hoe die ongeluk gebeur. Hy het gesê Swart het haar fietsryrekenaar verloor en omgedraai om dit op te tel, reg in ‘n aankomende vragmotor in.
Sy is op pad na die hospitaal dood.
“Ek kon sien hoe die bestuurder so hard soos hy kon rem getrap het,” het Austin in ‘n verklaring op FSA se webtuiste gesê.
“Hy het selfs na regs geswaai om Swart te vermy, maar dit was tevergeefs.
“Die vragmotor het haar reg van voor getref en sy is die lug in geslinger. Ek het my gehaas na waar sy gelê het.”
Swart het onlangs by die professionele vrouespan van HTC-Highroad aangesluit.
Sy het in 2009 en 2010 vir MTN-Energade gejaag en het verlede jaar agste by die Statebondspele geëindig.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA