Superster-Natalie
2010-08-07 11:00
Pietermaritzburg - Die swem-superster Natalie du
Toit het die skare in die G.C. Joliffe-swemkompleks gister twee maal
laat juig toe sy haar eie wêreldrekord in die 100 m- individuele
wisselslag (S9-kategorie) in die oggend- én aandsessies verbeter het.
Du Toit het die beste vertoning in albei sessies van die eerste
dag van die SA Kortbadbyeenkoms gelewer toe sy haar wêreldrekord met
albei probeerslae verbeter het.
Gisteroggend se verbetering was meer as 5 sekondes, van ’n tyd van 1
minuut 16.98 sekondes tot 1:11.74. Gisteraand het sy 1:11.04 opgestel.
Du Toit vertrek Woensdag saam met 19 ander swemmers na Nederland waar hulle aan die Paralimpiese Wêreldbyeenkoms sal deelneem.
Dié byeenkoms vind weliswaar in die langer 50 m-swembad plaas, maar
haar goeie vertoning hier is steeds goed vir haar selfvertroue voor dié
byeenkoms.
In ander hoogtepunte gister het 11 swemmers Swem Suid-Afrika se
kwalifiseringsvereistes vir die Wêreld-kortbadbyeenkoms in Desember in
Doebai oortref.
Die vereiste tye is redelik billik omdat Swem SA ook belowende jong swemmers ’n geleentheid wil gee om in Doebai deel te neem.
Die tye is veel stadiger as die nasionale rekords, maar dit is ook
meegebring deur die blitsige tye wat verlede seisoen opgestel is toe
daar nog in die sogenaamde super-swempakke deelgeneem is.
Vanjaar is die swemmers terug in tekstielpakke, maar die land se
bestes het steeds gister tye opgestel waarop hulle trots kan wees.
Roland Schoeman (23.40) én Graeme Moore (23.58) het die vereiste
van 23.95 in die 50-vlinderslag oortref. Dié duo sal vandag in ’n taai
stryd in die eindronde teen mekaar te staan kom.
Schoeman se tyd plaas hom derde ter wêreld in dié nommer, maar van
die groot lande het slegs Australië en Nederland tot dusver hul
nasionale kortbad-kampioenskapsbyeenkomste gehou.
Moore is in dié stadium ook een van die top-10.
Chad le Clos kan maar sy tasse vir Doebai begin pak nadat hy die
400 m- individuele wisselslag gister in ’n baie indrukwekkende tyd van
4:08.00 gewen en in die proses gekwalifiseer het.
Gerhard Zandberg en George du Rand, in die halfeindronde van die
50-rugslag, William Diering en Neil Versfeld (200-borsslag), Jessica
Pengelly en Kathryn Meaklim (400- individuele wisselslag) en Chanelle
van Wyk (100-rugslag) het ook gekwalifiseer.
Van Wyk en Du Rand keer albei terug tot mededingende swem nadat hulle deur onderskeidelik knie- en skouerprobleme gepla is.
Die hoogtepunte op vandag se program is (almal eindrondes):
50-borsslag (vroue), 100-rugslag (mans en vroue), 50-vlinderslag (mans),
800-vryslag (vroue en mans) en 200-borsslag (vroue).
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24