Super-Sandes tem Himalaja
2011-11-29 08:01
Pretoria. – Ryan Sandes het Sondag met sy sege in die Racing Planet Nepal-wedloop bewys hy het nie sy gelyke as dit by ware strawwe fisieke uitdagings kom nie.
Hy het al ses die skofte van die wedloop oor 250 km gewen en daarmee verseker hy klop Italië se Stefano Gregoretti met 2 uur en 30 minute.
Michael Ormiston van Australië was derde.
Verlede jaar het die 28-jarige Sandes geskiedenis gemaak toe hy die eerste atleet geword het wat al vier byeenkomste in die 4Deserts-reeks – dié van Gobi, Sahara, Atacama en Antartika – gewen het.
Tyd vir stilsit is daar nie. Oor twee weke gaan Sandes aan die Mark Webber Challenge in Tasmanië, Australië, deelneem.
Daar gaan van die atlete verwag word om te roei, bergfietse te trap, te draf en te abseil.
“Groot pret,” is hoe Sandes na dié avontuursport-byeenkoms verwys.
Volgens Sandes was die Nepal-wedloop ’n wonderlike ervaring.
“Ek wou nog altyd Nepal beleef het en dit het my stoutste verwagtinge oortref.
“Jy kan nie anders as om klein te voel as jy so in die skadu van die Himalaja-gebergtes hardloop nie. ’n Mens moet die berg sien om dit regtig te kan waardeer.
“Die interaksie wat ek met die plaaslike mense gehad het, het die swaarkry beslis die moeite werd gemaak.
“Die Nepalese het ons op die hande gedra. ’n Spesiale oomblik was toe ek in die vierde skof teen ’n strawwe bult gesukkel het.
“Toe ek bo kom, het ek my amper boeglam geskrik, want twee vroue het op my afgestorm. Voordat ek tot verhaal kon kom, was my gesig rooi geverf.”
Volgens Sandes is dit beslis een van die strafste wedlope waaraan hy nog deelgeneem het.
“Ons het meesal 3 000 m bo seevlak gehardloop wat beteken jy sukkel maar om ordentlik asem te haal.
“Van die paadjies waarop ons moes draf, was niks anders as bergklimroetes nie. So plek-plek moes jy maar hande viervoet voortsukkel.
“Van die afdraandes was ook baie tegnies. Ek het juis my enkel teen ’n afdraende geswik. Gelukkig was dit nie te erg nie.”
Sandes sê om ses dae met ’n rugsak te hardloop, het teen die einde sy tol begin eis.
“My skouers was teen die einde lekker seer.”
Die koue aande (die temperature het tot -1°C gedaal) en sy tweedaagse stryd met ’n maagvirus is van die min dinge wat Sandes regtig gepla het.
Hy bieg dat die enigste keer dat hy werklik bang geraak het, was toe hy in die plaaslike taxi’s moes ry.
“Demolition derby taxi-ritte,” is die woorde wat hy gebruik om dié ervaring te beskryf.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24