Super Jordy wys staal teen Aussie
2011-07-25 08:01
Jeffreysbaai – Suid-Afrika se superster-surfer, Jordy Smith, het Sondag die Springbokke se nederlaag teen die Wallabies op die rugbyveld gewreek toe hy die Australiër Mick Fanning in die eindronde van die Billabong Pro-byeenkoms by Jeffreysbaai geklop het.
Die 23-jarige Smith, wat ’n naelskou-stryd met 15.60 punte teenoor 14.83 gewen het, het sodoende die eerste surfer sedert Jake Paterson – presies ’n dekade gelede – geword wat sy titel suksesvol verdedig.
In moeilike toestande, met ’n sterk aanlandige wind en reën wat sake erg vir die surfers bemoeilik het, was dit Smith wat deurgaans die beste balans tussen progressiewe bewegings en meer tradisionele kragsurf kon handhaaf.
Ná ’n marathon-skof Saterdag in epiese toetstande, waartydens Smith die skare op hul voete gehad het met seges oor Travis Logie (Suid-Afrika) en Bede Durbidge (Australië), moes hy nóg drie uitdunne wen alvorens hy die ikoniese aalwyn-trofee syne kon maak.
Sy eerste slagoffer Sondagoggend vroeg was die Amerikaner Damiem Hobgood (kwarteindronde), wat hy met 15.10 teenoor 8.94 vermorsel het.
Daarna het hy die gevaarlike Adrian (Ace) Buchan in die halfeindronde aangedurf, maar laasgenoemde het hulpeloos toegekyk hoe Smith hom met 17.46 teenoor 11.87 slae gee.
Fanning, wat in die halfeindronde met sy gedugte landgenoot Joel Parkinson afgereken het, was egter ’n perd van ’n ander kleur en het tot in die doodsnikke nog kans gehad om met ’n goeie brander die titel voor Smith se neus weg te raap.
Eindelik kon Fanning eenvoudig nie nog ’n brander met potensiaal kry nie en was Smith se twee beste branders – van 8.60 en 7.00 punte – net-net genoeg om die voormalige wêreldkampioen (8.00 en 6.83) te troef.
Smith, ’n gebore Durbaniet wat deesdae in Llandudno woon, het nie net ’n stewige wentjek vir sowat R500 000 in sy sak gesteek nie, maar was ook die wenner van ’n WTA Nixon-horlosie van sowat R68 000 vir die hoogste individuele uitduntelling.
Dít het hy in die vyfde ronde vermag toe hy 18.30 uit ’n moontlike 20 punte teen die Aussie Bede Durbidge behaal het. Smith het op sy laaste brander met een van die grootste air-reverses wat nog in ’n kompetisie gesien is, vorendag gekom.
Benewens dié waardevolle buit, het Smith ook waardevolle ranglyspunte ingesamel en beklee hy nou die tweede plek in die wedloop om die wêreldtitel.
Smith (24 750 punte ná vier byeenkomste) is kort op die hakke van die voorloper, Joel Parkinson (25 700).
Die volgende byeenkoms in die Wêreldreeks, die Billabong Pro Tahiti by Teahupoo in die suidelike Stille Oseaan, begin op 20 Augustus.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24