Sunette wil wéér so maak
2011-09-08 07:07
Pretoria – Suid-Afrika se twee voorste vroue-atlete, Caster Semenya (800 m) en Sunette Viljoen (spiesgooi) is albei Donderdagaand in Zürich in die eerste van twee eindrondes van die Diamantliga in aksie.
Die vonke gaan spat, want dit kan ’n herhaling wees van verlede week se Wêreldkampioenskappe in Daegu.
Al die atlete wat in die 800 m en spiesgooi-eindrondes in aksie was, neem weer deel.
Viljoen, wat ’n brons medalje in Suid-Korea gewen het, is na haar reuse gooi van 68.38 op die randjie van groot roem.
Net Barbora Spotakova (Tsjeggië – 72.28 m), Maria Abakumova (Rusland – 71.99), Olisdeilys Menendez (Kuba – 71.27), Christina Obergföll (Duitsland – 70.20) en Trine Hattestad (Noorweë – 69.48) het al verder gegooi.
“Ek het ongelooflike seisoen agter die rug waarin ek elkeen van die doelwitte wat ek vir myself gestel het, bereik het,” het Viljoen gesê.
“Dié belangrikste is dat ek aan myself en die internasionale spiesgooi-gemeenskap bewys het dat ek goed genoeg is om aanstaande jaar op die Olimpiese Spele in Londen ’n medalje te wen.
“As ek gefokus bly en my tegniek is reg, is ek vol vertroue dat my spies weer ver deur die lug sal trek.”
Wat die 800 vir vroue betref, kan daar nou reeds voorspel word dat Semenya, wat die silwer medalje in Daegu gewen het, oor die laaste 200 met ’n geweldige eindpoging vorendag sal kom.
Die groot vraag is of die Russiese wêreldkampioen, Mariya Savinov, steeds genoeg krag gaan oorhê om die Suid-Afrikaner in te haal en verby te steek.
Jennifer Meadows van Brittanje, wat nie vir die eindronde gekwalifiseer het nie, kan vir die groot verrassing sorg.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg