Sunette troef weer top-gooier
2010-07-12 14:10
Pretoria - Sunette Viljoen het Saterdagaand op die Diamantliga-byeenkoms in Gateshead, Engeland, die tweede keer die afgelope vier weke met Barbora Spotáková, die vroue-wêreldrekordhouer in die spiesgooi, afgereken.
Viljoen se wenafstand was 64.32m.
Met dié vertoning het Viljoen seker gemaak dat sy nou met die drie beste pogings nog deur ’n Suid-Afrikaanse vroue-atleet spog.
Verlede maand het sy die spies 66.38m deur die lug laat trek en verlede jaar was haar beste afstand 65.43m.
Dit is duidelik dat Viljoen kan kophou wanneer dit saak maak.
Weens probleme met haar vlugreëlings moes sy haar spiese in Suid-Afrika agterlaat en inderhaas reëlings tref om met geleende spiese deel te neem.
Kara Patterson van die VSA was tweede met ’n afstand van 63.11m en Spotáková derde met ’n gooi van 62.02m.
Peter van der Westhuizen is ná die naweek Suid-Afrika se naasvinnigste atleet oor 1 500 m tot dusver vanjaar. Hy het agtste in 3:35.97 geëindig.
Net Johan Cronjé, met ’n tyd van 3:35.24, het vanjaar al vinniger gehardloop.
Asbel Kiprop van Kenia het die 1 500m in 3:33.34 gewen.
Die Suid-Afrikaner Ruben Ramolefi het in nog ’n sukkel- vertoning in die 3 000-hindernis agtste in ’n teleurstellende tyd van 8:41.80 geëindig.
Die Keniaan Linus Kipwambok Chumba het in 8:19.72 gewen.