Sun City lok 8 van die bestes
2009-10-22 08:29
Marizanne Kok
Johannesburg-Tiger Woods is reeds vir baie jare die hoofrolspeler in die nagmerries van die beste gholfspelers in die wêreld, maar die afgelope ses maande het hy boonop onrustige nagte vir die organiseerders van Suid-Afrika se grootste gholfskouspel veroorsaak.
Daardie onrustigheid was steeds gister duidelik in die lyftaal van die organiseerders van die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City. Hulle het minstens twee handevol potensiële trekpleisters verloor toe vroeër vanjaar besluit is om Woods se Chevron-toernooi dieselfde naweek as die Sonstad-skouspel aan te bied.
Met 14 van die voorste 20 spelers ter wêreld wat verkies om saam met Woods te speel, is verwag dat tweederangse deelnemers by Sun City sou opdaag.
Die organiseerders kan hulself egter op die skouer klop nadat hulle steeds ’n sterk groep spelers kon oortuig om hulle in die eerste week van Desember by die moeilike Gary Player-buiteklub te kom toets.
Die opkomende Ierse sensasie Rory McIlroy, Amerikaanse Meesterskampioen, Angel Cabrera, en Suid-Afrika se tweemalige Grand Slam-kampioen Retief Goosen tel onder die twaalftal wat by Sun City in aksie sal wees.
Altesame 8 van die voorste 30 spelers op die wêreldranglys, onder wie die verdedigende kampioen, Henrik Stenson, asook die Suid-Afrikaners Tim Clark en Richard Sterne, het hul Sun City-uitnodigings aanvaar.
Stenson, nr. 7 op die wêreldranglys, se verdediging van sy titel behoort vuurwerk op te lewer. Hy was verlede jaar uitstekend op die Player-uitleg en het met ’n yslike 9 houe gewen, veral danksy ’n eerste ronde van 63. In drie verskynings het hy nog nooit swakker as vierde geëindig nie.
Goosen is ’n tweemalige kampioen en maak sy sewende verskyning. Hy het verlede jaar se toernooi misgeloop, maar keer terug ná ’n seisoen waarin hy 19 afsnypunte in 20 PGA-toernooie oorleef het.
En dan is daar McIlroy, wat op 20 genoeg gedoen het om as toekomstige nr. 1 in die wêreld beskou te word.
Die Ier het vanjaar top10-uitslae in sowel die Amerikaane Ope as PGA-toernooi behaal en was tot verlede week bo-aan die geldlys van die Europese reeks. Hy was al ’n paar keer in Suid-Afrika in aksie, in die Suid-Afrikaanse Ope en Alfred Dunhill-toernooi, maar maak sy debuut by Sun City.
“Ons het vanjaar ’n groep spelers wat almal betekenisvolle spronge op die wêreldranglys gemaak het,” het die toernooi-direkteur, Alistair Roper, gesê.
“Vyf van hulle was in die Presidentebeker-toernooi in aksie en nog twee in die Ryderbeker. Daar is ook ’n groot aantal wat die week voor ons toernooi aan die Wêreldbeker gaan deelneem. Alles in ag genome is ek tevrede. Dié is ’n sterk groep spelers.”
* Die volledige groep vir die Nedbank-toernooi (wêreldranglys in hakies) is: Henrik Stenson (Swe, 7), Rory McIlroy (Ier, 17), Retief Goosen (SA, 19), Robert Karlsson (Swe, 24), Hunter Mahan (VSA, 25), Ross Fisher (Eng, 26), Luke Donald (Eng, 27), Angel Cabrera (Arg, 28), Robert Allenby (Aus, 31), Nick Watney (VSA, 32), Tim Clark (SA, 39), Richard Sterne (SA, 96).
- Die Burger