Strawwe toets vir broers, Contador
2011-07-19 08:39
Pretoria – Die stryd om minute sal in erns begin wanneer Alberto Contador (’n driemalige wenner) en die Schleck-broers, Andy en Fränk, mekaar Donderdag en Vrydag in die twee strafste skofte van die Tour de France die stryd aansê.
Die fietsry-skofte in die Alpe sluit onder meer die legendariese klimme Col du Galibier (2 645 m), Col d’Izoard (2 360 m) en Alpe d’Huez (1 850 m) in.
Contador (Saxo Bank) én die Schleck-broers (Leopard Trek) kort om heeltemal verskillende redes amper 2 minute om ’n realistiese kans te hê om die Tour te wen.
Cadel Evans (BMC), hoewel hy derde algeheel is, is tans die groot gunsteling om Sondag Parys se Champs-Élysées met die Tour se geeltrui binne te jaag.
Wat beslis in die Aussie se guns tel, is dat hy 1 minuut en 54 sekondes voor Contador is. Dit beteken hy is in die bevoorregte posisie om ’n wag-en-sien-benadering te volg.
Die Spanjaard moet voor Saterdag iewers tyd opmaak, want daar is min te kies tussen sy en Evans se vermoëns as dit by tydtoetse kom. Contador (sewende) gaan sukkel om in ’n tydtoets oor 42.5 km meer as 3 minute op die ander jaers in te haal.
Fränk wat algeheel tweede – 17 sekondes voor Evans – is en Andy, vierde – 9 sekondes stadiger as Evans – het ’n ander dilemma.
As daar één skof is waarna die broers glad nie uitsien nie, is dit die tydtoets.
Dit is ’n uitgemaakte saak dat hulle Saterdag gaan tyd verloor. Op ’n slegte dag kan dit meer as 2 minute wees. Daarom het hulle geen keuse as om Contador en Evans in die Alpe te probeer stukkend ry nie.
Iets wat die Schleck-broers beslis tot kommer moet stem, is dat hulle verlede week in die Pireneë-gebergtes ondanks ’n paar aanvalle glad nie enige van die gunstelinge kon afskud nie.
Die broers se ander probleem is dat hulle nog moet besluit wie vir wie gaan werk om die Tour te wen. Fränk het in die Pireneë na die sterker ryer gelyk.
Ivan Basso (Liquigas-Cannondale) is die een jaer wat die kaarte lelik deurmekaar kan krap. Dit was opmerklik hoe gemaklik hy in die Pireneë saamgetrap het. Hy is ook nie ’n te slegte tydtoetsjaer nie.
Basso is vyfde, 72 sekondes agter Evans.
Thomas Voeckler (Europcar), wat die afgelope week die Tour se geeltrui gedra het, het bespiegelings dat hy kan wen as onsin afgemaak.
Woensdag se skof – van St. Paul Trois Châteaux na Gap oor 162.5 km – sluit net een noemenswaardige klim in. Die verwagting is dat ’n groep jaers sal wegbreek en voor sal bly jaag.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24