Sterne terug na 11 maande
2010-12-09 08:27
Malelane - Richard Sterne, die Sonskynreeks se geldwenner van 2008, maak Donderdag by Leopard Creek in die eerste ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskapstoernooi sy terugkeer nadat hy 11 maande lank met ’n ernstige rugbesering gesukkel het.
Sterne, wat twee jaar gelede dié toernooi en ’n week later ook die Suid-Afrikaanse Ope-kroon gewen het, het in Januarie laas in ’n toernooi gespeel nadat hy rugprobleme ontwikkel het en was tot twee weke gelede vir vyf maande glad nie op die gholfbaan nie.
“Ek het nie werklik beplan om dié week al te speel nie en wou die lyf nog ’n paar maande gee om te herstel.
“Maar ek het eindelik besluit dis beter om my terugkeer te maak in Suid-Afrika – op ’n gholfbaan wat ek goed ken en baie geniet,” het die Pretorianer Woensdag gesê.
“Leopard Creek het vir my goeie herinneringe en wek lekker gevoelens by my, so dis ’n goeie plek om my loopbaan terug op koers te probeer kry.”
Sterne word beskou as ’n potensiële gholf-superster en hy self glo ook hy het nog nie naastenby dit bereik waartoe hy in staat is nie.
“Ek glo ek het maar sowat 10% van my potensiaal verwesenlik; so vanselfsprekend wil ek weer op die baan kom en almal herinner aan my vermoëns,” sê hy.
“Dit was wonderlik om ’n paar van my vriende se opgang vanjaar te volg, maar nou wil ek ook wys ek is oukei en kan nog wen.”
Sterne het spesifiek verwys na twee van sy goeie vriende, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel.
Oosthuizen het natuurlik vanjaar die Britse Ope gewen – en Schwartzel het aan die begin van die jaar in die eerste twee toernooie in die Europese reeks geseëvier.
Albei het in die top-10 op dié reeks se geldlys geëindig.
Sowel Oosthuizen as Schwartzel is vandeesweek hier by Leopard Creek en het uiteenlopende doelwitte.
Oosthuizen herstel steeds van die enkelbesering wat hom twee maande langs die baan gehou het.
Hy kry vandeesweek vir oulaas slypkans voor die Suid-Afrikaanse Ope, sy grootste doelwit van die somer.
Schwartzel, ’n voormalige wenner van die Dunhill-toernooi, kan die eerste posisie op die Sonskynreeks-geldlys hier amptelik syne maak, aangesien hy die toernooi met ’n reuse-voorsprong van sowat R2,2 miljoen begin.
Met R2,8 miljoen op die spel in die twee toernooie wat oor is in die seisoen sal ’n speler wat hom wil verbysteek minstens een oorwinning moet behaal.
Bly op hoogte van die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24