Sportminister: 'Niks word gedoen vir ontwikkeling'
2011-04-05 12:38
Johannesburg - Suid-Afrika se sportminister, Fikile Mbalula, het gesê dit is administrateurs wat verantwoordelikheid moet neem vir die gebrek aan transformasie in sport.
"Die vraag is, wat het ons nou eintlik as sportfederasies gedoen om talent in hierdie land te ontwikkel," het Mbalula Dinsdag in Johannesburg by die bekendstelling van die nasionale sportindaba, wat later vanjaar plaasvind, gesê.
"Ek kan sonder twyfel sê dat ons net mooi niks gedoen het nie."
"Ons blameer die spelers maar sal nooit 'n vinger na die sportadministrateurs, wat altyd net aan hulself dink, wys nie."
Mbalula het gesê voorsiening gaan gemaak word vir alle Suid-Afrikaners om insette te lewer voor die aanvang van die sportindaba.
Hy het sy hoop uitgespreek dat kwessies soos die gebrek aan transformasie en omstredenheid rondom kwotas in nasionale spanne by die indaba aangespreek sal word.
"Die gesprek sal oop wees vir almal van werkers tot boere, vroue in die stad en platteland, onderwysers en studente, spelers en hul afrigters, sportadministrateurs, bestuurders en politici, het Mbalula gesê.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA