Sport-Oscars wink vir SA se Pistorius
2012-02-05 08:57
Johannesburg – Die Laureus-sporttoekennings, die sogenaamde Oscars van wêreldsport, vind oor minder as 48 uur in Londen plaas en Suid-Afrika se eie Oscar Pistorius kan teen Maandagaand nie een nie, maar twéé, van dié prestigeryke toekennings ryker wees.
Die Laureus-stigting vereer jaarliks uitnemendheid in sport en Pistorius is die enigste Suid-Afrikaner wat die uitsoek-kortlys kon haal.
Hy is as die gestremde atleet van die jaar benoem en is ook op die kortlys vir die beste deurbraak-vertoning van 2011. In laasgenoemde kategorie sal hy onder meer teen die Noord-Ierse gholfsensasie Rory McIlroy, die Chinese tennisster Li Na en die Jamaikaanse naelloper Yohan Blake te staan kom.
“Dis wonderlik om te weet ek is deur die wêreld se media benoem en dat my prestasies van 2011 só deur hulle erken word,” het Pistorius aan laureus.com gesê.
Oor sy teenstanders in die deurbraak-kategorie sê hy: “Ek is net baie bevoorreg om saam met hulle oorweeg te word. Dit is moeilik om te glo dat my naam ook daar is.”
Pistorius, wat as “die wêreld se vinnigste man sonder bene” bestempel word, het in 2011 gewys hoekom hy dié bynaam verdien toe hy die eerste gestremde atleet geword het wat ’n medalje op die wêreldkampioenskappe vir nie-gestremde atlete verower het.
Hy was deel van die Suid-Afrikaanse 4x400-aflosspan wat ’n silwermedalje in Daegu, Suid-Korea losgenael het.
En hy het reeds ’n núwe doelwit vir homself gestel: om in 2012 aan die Olimpiese Spele deel te neem.
Pistorius het in Julie verlede jaar die 400 in ’n persoonlike beste tyd van 45.07 sekondes voltooi om vir die wêreldkampioenskappe te kwalifiseer. Die Olimpiese kwalifiserende A-vereiste is 45.30 s.
Hy moet nog net een keer in die drie maande voor die Spele kwalifiseer om in Londen te kan deelneem en indien hy dít vermag, sal hy die tweede Suid-Afrikaner word wat sy land in dieselfde jaar op die Olimpiese én Paralimpiese Spele verteenwoordig, ná die swemmer Natalie du Toit.
“As hy na die eindronde van die Olimpiese Spele kan deurdring, sal dit fantasties wees. Ek glo ook hy het die toewyding en die ingesteldheid om eerste plekke in die 100-, 200-, en 400 én ’n rekord op die Paralimpiese Spele te behaal,” het sy pa, Henke Pistorius, aan Rapport gesê.
Pistorius is sonder kuitbene gebore en sy bene is op die ouderdom van 11 maande net onder die knie geamputeer. Op 17 het hy ’n knie-besering opgedoen en – as deel van die rehabilitasieproses – aan atletiek begin deelneem.
Sedertdien kon nog niks hom of sy koolstofvesel-lemme keer nie.
Die rede daarvoor, blyk dit, is sy ingesteldheid.
Soos sy pa sê: “Oscar was nog nooit disabled nie – hy is differently abled.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24