Spele: Nou is mediese hoof siek
2010-10-02 15:46
Nieu-Delhi - Die hoof mediese beampte van die Statebondspele in Nieu-Delhi, Indië is op die vooraand van die toernooi se openingseremonie deur maagkoors platgetrek, het 'n beampte Saterdag gesê.
"Tarun Garg is met siekverlof," het 'n beampte by die Indiese Federasie van sportmedisyne gesê en bygevoeg dat aanvanklike toetse maagkoors by dié dokter gediagnoseer het.
Organiseerders van die Statebondspele het onder fel kritiek deurgeloop nadat spanne by 'n vuil en onvoltooide atletedorp aangekom het. 'n Voetbrug naby die atletiekstadion het ook inmekaargetuimel en konstruksiewerkers is beseer.
Delhi se minister van gesondheid, Kiran Walia, het deelnemende lande die versekering gegee dat toestande in Indië se hoofstad by die dag verbeter nadat daar ook gevrees is dat atlete dengue-koors (knokkelkoors) kan opdoen.
"Ons het 'n bevoegde span mediese dokters wat toegerus is om enige gesondheidskwessie te hanteer," het Walia ges.
Die Statebondspele se openingseremonie vind Sondag plaas. Die swemkampioen Cameron van der Burgh is gekies om Suid-Afrika se landsvlag by die seremonie te dra.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24