Spele: Ape se hulp gevra
2010-09-28 15:35
Nieu-Delhi - Amptenare in Nieu-Delhi gaan 'n groep Langur-ape by fasiliteite van die Statebondspele aanstel om kleiner apies van dié toernooi weg te hou.
Vanaf Woensdag sal 10 van die groot ape by verskeie fasiliteite aan diens wees met die swembadkompleks wat gesien word as die plek waar klein apies hulself die meeste wangedra," het 'n amptenaar gesê.
Die Nieu-Delhi munisipaliteit het 'n permanente span van 28 ape wat gereeld gebruik word om die kleiner apies in sekere dele van die stad te verdryf.
Diere het organiseerders van die Statebondspele tot dusver reuse kopsere besorg met rondloper honde in sekere plekke en 'n tweede slang wat by die tennisbane gevang is.
Ape is 'n algemene verskynsel in Indië se hoofstad waar hulle gereeld in regeringsgeboue, howe, polisiestasies en selfs hospitale aangetref word.
In 2007 het die onder-burgemeester van Delhi gesterf nadat hy geval het, toe hy deur 'n groep ape by sy huis aangeval is.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24