Span SA bring 71 medaljes uit Athene
2011-07-07 09:17
Johannesburg – Span Suid-Afrika, die groep leergestremde atlete wat 71 medaljes verower het by die 13de Spesiale Olimpiese Spele in Athene, Griekeland, is Woensdag soos helde op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park verwelkom.
Dié groep van 81 atlete het 38 goue medaljes, 30 silwer en 13 brons gewen.
“Die president en die hele kabinet sê ‘siyabonga’ (dankie),” het Lulama Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, Woensdag aan die atlete gesê. “Julle het Suid-Afrika trots gemaak!
“Julle het bewys dat leergestremde mense met die regte steun groot dinge kan bereik, nie net op die sportveld nie, maar ook in ander fasette van die lewe.”
Aaron Lebogang Molefe, die Vrystaatse naelloper wat twee goue medaljes in onderskeidelik die 100 m- en 200 m-resies gewen het, het gesê hy sien reeds uit na die volgende Spesiale Olimpiese Spele en hoop om dan nóg beter te vaar.
Molefe het die 100 m in 11,61 sek en die 200 m in 23,46 sek gehardloop om sy medaljes te verdien.
“Ek kon dalk nie hul taal verstaan nie, maar die Grieke lyk soos baie vriendelike mense en hulle was almal verskriklik vriendelik.
Ek is baie bly oor my medaljes, maar ek het met baie selfvertroue Griekeland toe gegaan, so ek was eintlik maar van die begin af seker dat ek my land sou trots maak.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24