Sonny Bill sonder afrigter voor groot geveg
2012-10-25 14:01
Wellington – Die rugby-ster Sonny Bill Williams se boksafrigter het bedank ná ‘n uitval tussen sy seun en Williams se bestuurder.
Die Australiese bokslegende Tony Mundine het aangekondig dat hy nie in Williams se hoekie sal wees vir sy geveg teen die Suid-Afrikaner Francois Botha op 24 November nie, het stuff.co.nz berig.
Mundine het ook aan die Daily Telegraph gesê dat probleme tussen sy seun, Anthony Mundine, en Williams se bestuurder, Khoder Nasser, die groot oorsaak was vir sy bedanking.
“Nee, ek rig nie meer vir Sonny Bill af nie,” het Mundine aan die koerant gesê.
“My seun het ‘n uitval met Khoder Nasser gehad so dit is die einde daarvan.”
“Ek het nog nie vir Sonny Bill gesê nie. Ek is lief vir die seun en sy broers. Hulle is goeie mense.”
“Hy het al die vaardighede en ek wens hom die beste toe. Ek kan net nie betrokke wees solank Khoder ook betrokke is nie.”
“Anthony is my seun en my enigste seun. Natuurlik gaan ek by hom staan.”
Williams (27) sal op 24 November teen Botha in Brisbane, Australië deur die toue klim.
Botha het 48 gevegte tydens sy loopbaan gewen en agt verloor – twee van die nederlae was wêreldtitel-gevegte teen Lennox Lewis en Wladimir Klitschko – maar op 44-jarige ouderdom is die "Witbuffel" se beste jare verby.
Die voormalige kampioen het houe van die wêreld se bestes – Mike Tyson, Lennox Lewis en Evander Holyfield – trotseer, en dit is hoekom hy meen dat die All Black-ster nie op dieselfde vlak as hy is nie.
"Hy gaan 'n ontnugtering kry, maar dit sal hom 'n beter bokser in die toekoms maak," het Botha verlede week gesê.
"Sonny Bill Williams mag dalk 'n goeie rugbyspeler wees, maar ek beskou hom nie as 'n goeie bokser nie. Hy hoort nie in die bokskryt nie. Hy moet eerder rugby gaan speel."
Williams het sedert 2009 al vyf sy swaargewig-gevegte gewen. Hy is die Nieu-Seelandse boksvereniging se huidige swaargewig-kampioen.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.