Sokkerspan loop van veld oor rassistiese uitlatings
2013-01-04 08:58
Rome – Die AC Milan-ster Kevin-Prince Boateng het Donderdag van die veld gestorm ná ondersteuners rassistiese uitlatings oor hom en sy spanmaats uitgeroep het tydens ‘n vriendskaplike wedstryd teen die Italiaanse sokkerklub Pro Patria.
“Dis ‘n jammerte dat sulke goed nog gebeur,” het die 25-jarige Duits-gebore Ghanees getwiet na die wedstryd in die 26ste minuut gestaak is toe Boateng en sy span van die veld af geloop het.
Dit is die eerste keer dat ‘n wedstryd in Italiaanse sokker gestop is as gevolg van rassisme.
Die skeidsregter moes die wedstryd vroeër twee maal stop ná rassistiese uitlatings gemaak is teen Boateng se spanmaats Sulley Muntari, M'Baye Niang en Urby Emanuelson.
“Dit was die regte keuse om van die veld af te loop,” het Massimiliano Allegri, AC Milan se afrigter, ná die wedstryd gesê.
“Italië as ‘n land moet verbeter en meer beskaafd en intelligent word,” het Allegri gesê.
“Dit was ondraaglik en dit was net ‘n vriendskaplike wedstryd. Ons kon nie so aangaan nie,” het die kaptein, Massimo Ambrosini, bygevoeg.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP