Soet én suur vir SA in Aussie-ope
2012-01-17 10:10
Melbourne – Dit was ’n dag van gemengde welslae vir Suid-Afrikaanse tennis Maandag hier in die Australiese Ope, met Kevin Anderson wat geseëvier het en Rik de Voest wat uitgeskakel is.
Anderson, 30ste gekeur, het die Sweedse kwalifiseerder, Frederick Nielsen, met 6-1, 6-2, 6-4 geklop, terwyl De Voest in vyf stelle deur Lu Yen-hsun van Thailand verslaan is.
Die telling was 6-4, 3-6, 6-1, 3-6, 6-3.
Suid-Afrika se voorste vroue-speler, Chani Scheepers, kom vandag in die eerste ronde teen die 2de gekeurde, Svetlana Kuznetsova van Rusland, te staan.
Anderson se teenstander in die tweede ronde is Sergiy Stakhovsky van die Oekraïne.
Die Switser Roger Federer het geen nagevolge van ’n onlangse rugbesering getoon nie in sy sege van 7-5, 6-2, 6-2 in ’n uur en 38 minute oor die Rus Alexander Kudryavtsev.
Sy volgende teenstander is die Duitser Andreas Beck.
Twee spelers moes die verlies van die eerste twee stelle te bowe kom om hul gekeurde teenstanders uit te skakel.
Die Aussie Bernard Tomic het die Spanjaard Fernando Verdasco, 22ste gekeur, met 4-6, 6-7 (3/7), 6-4, 6-2, 7-5 uitgeskakel, terwyl Lukas Lacko van Slowakye Ivan Ljubicic van Kroasië, 28ste gekeur, met 3-6, 4-6, 6-3, 6-4, 6-4 huis toe gestuur het.
Die vrouekampioen, Kim Clijsters, asook die voorste speler ter wêreld, Caroline Wozniacki, het albei die tweede ronde bereik.
Clijsters het die Portugese kwalifiseerder Maria Joao Koehler met 7-5, 6-1 verslaan, waarna Wozniacki ’n aanvanklike aanslag van Anastasia Rodionova van Australië weerstaan het om met 6-2, 6-1 te seëvier.
Op ’n baie warm dag het die 3de gekeurde, Victoria Azarenka en China se Li Na, verlede jaar se naaswenner, ook albei deurgedring.
Li het Ksenia Pervak van Kazakstan met 6-3, 6-1 geklop, met Azarenka wat die Brit Heather Watson met 6-1, 6-0 oorrompel het.
Die 8ste gekeurde, Agnieszka Radwanska, moes terugveg om die Amerikaner Bethanie Mattek-Sands met 6-7 (10/12), 6-4, 6-2 in ’n stryd van langer as drie uur te klop.
Die Slowaakse speler Daniela Hantuchova, 20ste gekeur, het die Amerikaanse kwalifiseerder Varvara Lepchenko met 4-6, 6-3, 6-2 verslaan, terwyl die 16de gekeurde, Peng Shuai van China, met 6-3, 6-4 baas was oor Aravane Rezai van Frankryk.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg