Soet én suur vir SA by Wimbledon
2011-06-23 08:06
Londen. – Dit was ’n gesukkel, maar Venus Williams is deur na die derde ronde van die Wimbledon-tennistoernooi.
In ’n stryd van byna drie uur het Williams die 40-jarige Kimiko Date-Krumm van Japan Woensdag met 6-7, 6-3, 8-6 geklop.
Williams moes vir elke punt baklei. Sy was gou met 1-5 agter in die eerste stel. Sy het egter vasgebyt en met haar eerste wedstrydpunt die sege beklink.
“Sy het baie goed gespeel en dit moeilik gemaak vir my,” het Williams, ’n vyfmalige kampioen, gesê.
“Ek is baie bly ek kon dié taai stryd wen. Ek dink ek speel beter as in die vorige toernooi (Eastbourne). Ek is beslis meer beweeglik en ek ervaar ook geen pyn nie,” het die 30-jarige Amerikaner bygevoeg.
Rafael Nadal, die eerste gekeurde en verdedigende kampioen, het sonder enige probleme sy plek in die derde ronde bespreek.
Dié Spanjaard het Ryan Sweetling van Amerika met 6-3, 6-2, 6-4 geklop. Dit was Nadal se 16de agtereenvolgende sege hier op Wimbledon.
Die Britse hoop, Andy Murray, het Duitsland se Tobias Kamke met 6-3, 6-3, 7-5 uitgeskakel.
- Vir Suid-Afrika was dit ’n dag van gemengde welslae.
Chani Scheepers het in die eerste ronde vasgeval, maar Kevin Anderson het vir die goeie nuus gesorg deur sy plek in die tweede ronde te bespreek.
Die Rus Evgeniya Rodina het Scheepers met 6-3, 7-5 geklop.
Anderson, wat nou teen die naasbeste speler ter wêreld, Novak Djokovic, te staan kom, moes behoorlik stoei vir sy sege.
Hy het Rusland se Illya Marchenko met 6-7, 7-6, 6-4, 4-6, 6-1 geklop in ’n wedstryd wat Dinsdag weens swak lig gestaak is en Woensdag voltooi is.
Dit sal die derde keer wees dat Anderson vanjaar teen Djokovic, wat nog net een wedstryd in 2011 verloor het, te staan kom.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24