Slang in SAer se kamer by Statebondspele
2010-09-26 23:30
Nieu Delhi – Nóg twee Australiese atlete het Sondag uit die Statebondspele onttrek en ‘n Suid-Afrikaanse deelnemer het glo ‘n slang in sy kamer gevind, te midde klagtes van higiëne, sekuriteit en konstruksie wat die ronde doen – slegs ‘n week voordat die Spele in Nieu Delhi afskop.
Terwyl internasionale sport-amptenare beweer dat die situasie drasties verbeter het, meen sommige spanne dat die omstandighede nog net so sleg is.
Tuelo Serufho, hoof van die Botswana-afvaardiging, het aan Indië se Press Trust gesê dat sy span se kamers in die dorpie “onleefbaar vir ons atlete” is, met vuil beddegoed, krane wat nie werk nie en bourommel wat nog opgeruim moet word.
“Ons atlete sal Dinsdag hier wees,” het hy gesê en gewaarsku dat hulle in hotelle sal inboek as die kamers nie gereed is teen dan nie.
Die Statebondspele, wat elke vier jaar gehou word, bring sowat 4 000 atlete en amptenare van 71 lande van die voormalige Britse ryk bymekaar.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sapa - AP