Siek Greg Norman uit PGA-toernooi
2012-12-13 12:25
Coolum, Australië – Siekte het die voormalige nr.1-speler Greg Norman gedwing om uit die Australiese PGA-toernooi te onttrek nadat hy slegs twee houe in sy eerste rondte gespeel het.
Norman (57) het Donderdag skaars by die gholfbaan in Coolum, aan Australië se Goue Kus, afgeslaan toe hy moes ophou speel nadat hy vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het.
"Ek verstaan dat Greg baie siek is," het die PGA van Australië se uitvoerende hoof, Brian Thorburn, gesê.
"Hy kry tans mediese behandeling en ons hoop dat Greg spoedig sal herstel," het Thorburn bygevoeg.
"Iemand by die klubhuis het gesê hy is so siek soos 'n hond. Ek dink Greg wou graag voortspeel, maar dit was duidelik nie moontlik nie."
Die toernooi se prysgeld beloop $1,25 miljoen (sowat R10 miljoen).
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP