Sharapova pak Tsjeg om titel
2011-07-01 08:47
Londen. – Maria Sharapova moet ’n linkshandige Tsjeg klop as sy haar tweede Wimbledon-tennistitel hier wil verower.
Sharapova (5de gekeur) het Donderdag die promotorskeuse Sabine Lisicki van Duitsland met 6-4, 6-3 getroef om ’n plek te bespreek in haar tweede Grand Slam-eindstryd op grasbane.
Die Rus speel Saterdag teen die agtste gekeurde, Petra Kvitova, wat Victoria Azarenka (Belarus, 4) met 6-1, 3-6, 6-2 verslaan het vir ’n plek in haar eerste Grand Slam-eindstryd.
Sharapova het vriend en vyand in 2004 verras toe sy as 17-jarige met Serena Williams afgereken het in wat haar eerste Grand Slam-eindstryd was.
Dié slag is die 24-jarige Sharapova, wat haar vierde Grand Slam-titel soek, die gunsteling.
* Rafael Nadal sal in Vrydag se halfeindronde nie net die pyn in sy voet moet oorkom nie, maar ook die Skot Andy Murray wat tans van die beste tennis van sy loopbaan speel.
Nadal het ’n gunstige wen-verloor-rekord van 11-4 teen Murray.
Die Spanjaard sukkel egter met ’n seer linkervoet. Nadal, wat die verdedigende kampioen is, kan en sal Murray nie onderskat nie.
“Verlede jaar het ek hom geklop in die halfeindstryd, maar dit was ’n taai wedstryd,” het Nadal, die eerste gekeurde, gesê.
Hy het sy visier op sy 11de Grand Slam-titel ingestel.
“Dit gaan ’n moeilike wedstryd wees. Murray speel baie goeie tennis.”
Volgens Nadal is hy nogal bekommerd oor sy besering, maar sy begeerte om ’n derde Wimbledon-titel te wen, spoor hom aan.
“My voet is nie reg nie. Dit is egter nou die halfeindronde van Wimbledon.
“Ek móét speel,” het die 25-jarige Nadal gesê.
Murray is vasbeslote om Brittanje se droogte van 75 jaar sonder ’n manskampioen te beëindig.
“Ek glo ek kan Nadal klop. Ek het al kanse gehad,” het Murray gesê.
In die ander halfeindstryd pak die Serwiër Novak Djokovic die Fransman Jo-Wilfried Tsonga.
Tsonga het Roger Federer uitgeskakel. Djokovic het in sewe wedstryde teen Tsonga nog net twee keer gewen.
Die naasbeste speler ter wêreld het egter in sy laaste 49 wedstryde net een kragmeting verloor.
Tsonga, wat in die 2008-eindstryd van die Australiese Ope teen Djokovic verloor het, glo dié kan sy eerste Grand Slam-titel wees.
“Ek kan nie rede sien hoekom nie.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24
- Sapa - AFP